Nuwe lewe vir Radio Ermelo 104.0FM

Radio Ermelo 104.0FM het hul splinternuwe atlejee en kafee in Voortrekkerstraat die afgelope Saterdag op luisterryke wyse ingewy met ’n program vol vermaak en musiek wat by almal byval gevind het.

Radio Ermelo 104.0FM het hul splinternuwe atlejee en kafee in Voortrekkerstraat die afgelope Saterdag op luisterryke wyse ingewy met ’n program vol vermaak en musiek wat by almal byval gevind het.

Die verrigtinge is bygewoon deur ouddireksielede asook spesiale gaste, mnr. Willie Spies van Radio Pretoria, en die bekende sanger, Gert van Tonder van Groep Twee en van Wielie-Walie-faam, wat die teenwoordiges ook toegespreek het.

Plaaslike kunstenaars Wayne Matthews, Lizette van Aardt en Danie Terblanche het die groot aantal luisteraars deurentyd vermaak.

Ná die simboliese lintknip-seremonie deur ouddireksielid mnr. Eddie Edwards en die loslating van bykans 700 duiwe, het Ermelo se eie sterkman, Anton Franken, ook vir ’n hoogtepunt gesorg toe hy ’n Toyota-bakkie met ’n tou nadergesleep het.

In sy toespraak het Radio Ermelo 104.0FM se voorsitter, mnr. Johan Swart, gesê die radiostasie behoort aan die gemeenskap en Ermeloërs genooi om die stasie as hul eie gemeenskapsradio aan te neem en te ondersteun.

Hy het ook luisteraars genooi om voorstelle vir nuwe programme in te dien. “Op dié wyse raak mens betrokke en die radiostasie kan ’n identiteit aaneem wat eie is aan die Afrikaans-sprekende luisteraars van Ermelo en omliggende dorpe,” het hy gesê. Die nuwe uitsaai-ateljees en kontrolekamer is ’n groot verbetering op die ou ateljee en bied gerieflike uitsaaitoestande.

’n Voormalige direksielid, mnr. Kassie Kasselman, het in sy toespraak gesê hy is beïndruk deur die gedaanteverwisseling wat Radio Ermelo 104.0FM ondergaan het en ook ’n beroep op Ermeloërs en adverteerders gedoen om die stasie te ondersteun.

Die kafee wat bekendstaan as Die Uitsaai Kafee is ’n nuwe toevoeging tot die radiostasie en bied ’n gerieflike uitspankans vir besoekers aan die dorp waar hul ’n koppie koffie en versnapering kan geniet terwyl hulle die gratis Wi-Fi internetdienste kan gebruik. Die winkel bied allerlei snuisterye te koop.

 

Exit mobile version