Brande saai verwoesting

Meer as 25 boere met bakkies en waterkarre het hulle na die plase gehaas om te help om die brande onder beheer te kry.

Boere het die naweek miljoene rande se skade gely toe wegholvure verwoesting op verskeie plase in die Ermelo-omgewing gesaai het.
Die brande is aangejaag deur sterk winde wat by tye tot meer as 70km/u gewaai en brandslaners se taak bemoeilik het.
Sover bekend is geen skade aan wonings of implemente aangerig nie, maar die gesamentlike skade aan landerye, natuurlike en aangeplante weiding en mielielande beloop meer as R2-miljoen.
Twee brande het Saterdag gewoed en Sondag vyf, onder andere op die plaas Birkenheim van Edgar Filter en die plaas Mooifontein van Jannie Joubert op die pad tussen Chrissiesmeer en Ermelo gewoed.
’n Presiese kosteberaming van die skade was teen druktyd nie beskikbaar nie. Op Birkenheim is sowat R180 000 se skade aangerig en op Mooifontein het sowat 150 hektaar natuurlike en aangeplante weiding afgebrand.
Meer as 25 boere met bakkies en waterkarre het hulle na die plase gehaas om te help om die brande onder beheer te kry.
Op die plaas Kromdraai van Jannie en Barrie Myburgh op die Transvalia-pad het ’n brand ook Sondagmiddag omstreeks 12:00 ontstaan en meer as ’n miljoen rand se skade aangerig.
Volgens ’n opname deur Ermelo se brandweerhoof, mnr. Jaco Johnstone, het R375 000 se natuurlike weiding, R270 000 se aangeplante weiding , mielielande van R150 000 en hooibale ter waarde van R180 000 in die slag gebly.
Diverse skade , onder andere aan drade, beloop ongeveer R100 000. Die totale skade op dié plaas alleen beloop nagenoeg R1 075 000.
’n Tweede brand het kort daarna op die plaas Tebete verder op die Transvalia-pad ontstaan. Hier is ongeveer 375 ha natuurlike weiding, 77 ha aangeplante weiding, en 33 ha mielies verwoes. 400 bale het ook uitgebrand.
’n Voorlopige ondersoek het getoon dat die brande opsetlik aangesteek is en ’n saak van opsetlike saakbeskadiging word ondersoek.
Jannie Myburgh het ondanks die groot skade aan sy plaas gesê hy is dankbaar dat daar geen lewensverlies of skade aan geboue of implemete is nie.
“Ons was baie gelukkig.
“Die brand was teen 17:00 onder beheer en ons het tot ongeveer 21:00 bly waak ingeval dit weer sou opspring. Die wind het eers teen 23:30 gaan lê.
“Die boere en almal wat gehelp het, was op hul stukke.
“Benewens die spanne van Working on Fire en die Msukalgwa Brandweer wat ongelooflike werk gedoen het, het sowat 25 boere met bakkies en15 trekkers van heinde en ver opgedaag om ons te help. Die helikopterbemanning van Working on Fire was ongelooflik. Die helikopter skep 1500 liter water op ’n slag en hulle het 36 keer geskep.”
Hy het sy dank en waardering uitgespreek teenoor almal wat gehelp het.
“Dis wonderlik om te sien hoe die boere spontaan opgedaag het om te help. Mens sien of ken nie almal nie, maar ons wil elkeen bedank vir hul bereidwilligheid om te help. Ons waardeer dit opreg,” het Jannie gesê.

Exit mobile version