oop harte EN HANDE

30 ton goedere en kos na Rustenburg vir nie-stakers

Die gemeenskap van Ermelo het die afgelope naweek op ’n wonderlike wyse gereageer op ’n oproep om nie-stakende mynerwerkers en hul gesinne van Rustenburg by te staan en letterlik tonne kos en huishoudelike goedere geskenk.
Die projek is gedryf deur die Nederduitse Hervormde (NH) Kerk Ermelo en het selfs uit die buiteland reaksie ontlok.
’n Vragmotor met ’n drakapasiteit van 30 ton is Saterdagoggend buite die plaaslike Pick n Pay geparkeer en die gemeenskap is gevra om nie-bederfbare kos en ook klere by te dra.
Van vroeg af het mense van alle ouderdomme en uit alle dele van die gemeenskap goedere aangedra. Verskeie sakeondernemings het ook mildelike bygedraes gelewer en teen die middag was daar reeds meer as 30 ton se voorraad gelaai.
Die vragmotor het vroeg Sondagoggend na Rustenburg vertrek en is by sy eindbestemming deur gemeentelede van die NH Kerk Marikana en Kloof ingewag. Dié twee gemeentes sal die verspreiding van die kos en goedere onder die hulpbehoewendes behartig.
Vroeër die week is ses ton mieliemeel deur die boeregemeenskap van Ermelo ook na Rustenburg gestuur.
Dr. Piet van Zyl van die NH Kerk op Ermelo het sy dank en waardering teenoor die gemeenskap uitgespreek en gesê hy is oorweldig deur die reaksie.
“Om name uit te sonder, gaan lank neem. Daar is soveel mense en instansies wat bygedra het dat ons nie almal se name kan noem nie. Ons kan net elkeen uit ons harte bedank en die Here prys vir dit wat vandag hier gebeur het,” het hy gesë

Exit mobile version