Kinders gaan Pappa Piet se glimlag mis

Piet Crafford, ’n groot man met ’n groot hart en ’n geliefde pa, is Saterdag dood nadat sy bakkie op die pad tussen Newcastle en Volksrust gerol het.

Piet Crafford, ’n groot man met ’n groot hart en ’n geliefde pa, is Saterdag dood nadat sy bakkie op die pad tussen Newcastle en Volksrust gerol het.
Sy vrou, Clarissa, wat saam met hom gereis het, is ernstig beseer en word in die Milpark-hospitaal in Johannesburg behandel.
Piet is 41 jaar gelede op Ermelo gebore en het sy skoolloopbaan aan die destydse Ligbron Tegniese Skool voltooi.
Daarna het hy in die veiligheidsbedryf begin werk en was ten tye van sy dood mede-direkteur van ’n sekuriteitsmaat-skappy.
Hy was geliefd onder motorfietsryers en word onthou as ’n man met ’n groot glimlag wat altyd wou gee.
Sy drie dogters, Michelle, Valerie en Corrie, onthou hulle pa ook vir sy mooi en alomteenwoordige glimlag, ’n pa wat baie lief was vir hulle, altyd sy beloftes aan hulle nagekom het en die lewe vir hulle so maklik as moontlik gemaak het.
“Pa was ook lief vir rugbykyk en ’n vurige Shark-ondersteuner. Ons gaan hom so mis as dit rugby-kyktyd is,”
het Michelle bygevoeg.
Sy kinders se vriende was vir hom ook soos sy kinders en ’n 13 jaar lange vriendin van Michelle beskryf hom so: “Oom Piet het altyd ’n grappie gehad om te vertel en het my soos sy eie kind behandel. Dit was altyd vir hom lekker om ons kinders, veral in
die winkels en by Badplaas, te bederf.”
Piet laat ook sy gewese vrou, Anne-marie, twee stiefdogters, Lizelle en Angelique, sy broers Gerrie en Theuns en sy ouers Pieter en Isabel na.
Die familie bedank almal vir die oproepe, SMS’e, gebede en ondersteuning.
’n Begrafnisdiens vir Piet sal Vrydagoggend om 11:00 in die Sewendedag Aventiste Kerk in Lion Cachetstraat plaasvind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version