GeneralLocal newsNewsSchools

Skoolhoof 10 jaar in die tuig

“As ek die kans sou kry om dinge oor te doen, sou ek alles presies dieselfde doen."

Mnr. Roelof Ferreira, skoolhoof van Laerskool Ermelo, het Dinsdag 27 Mei sy 10de jaar as hoof van die skool gevier.
Hy is sedert sy aankoms in Ermelo in 1989 aan Laerskool Ermelo verbonde waarvan hy die laaste dekade as hoof dien. Hy was voorheen as leerkrag aan Laerskool Pretoria-Oos verbonde en het in 1989 ’n pos as departementshoof: opvoedkundige leiding by Laerskool Ermelo aanvaar.
In sy termyn as skoolhoof het mnr. Ferreira gesien hoe die skool gegroei het van ’n leerlingtal van 460 na die huidige 852. Die waglys vir toelating tot gr. 1 staan tans op 110. Die personeelkorps het ook in dié tyd vermeerder van 19 tot 48.
“Ek is bevoorreg om ’n ywerige personeelkorps van veral jong mense te hê, asook ’n beheerliggaam wat my visie en passie vir die skool deel. Ek het ’n passie vir jong mense. Ek glo sterk daaraan dat as iets die moeite werd is om te doen, is dit werd om dit goed te doen. Ek streef daarna om my personeel, die leerders en ouers te motiveer en ’n positiewe gesindheid onder hulle te kweek. Ek hou nie van negatiwiteit nie,” het hy aan die Hoëvelder gesê.
Van die take wat Roelof ná aan die hart lê, is die gereelde inskrywings in die skooljoernaal.
“Ek het in 2002 dié taak oorgeneem en ek vind dit baie interessant. Dit behels wel baie werk om die joernaal op datum te hou.
“Hierin kry mens ’n goeie kykie in die doen en late van die skool en ook die vordering en kan ook die suksesse van die skool volg. Ons het byvoorbeeld die afgelope jare baie goed op sportgebied presteer,” het hy bygevoeg.
“As ek die kans sou kry om dinge oor te doen, sou ek alles presies dieselfde doen. Maar dit is alles net te danke aan die genade van God. Sonder God sou ek dit nie alles kon vermag het nie. Ek is ook dank aan my vrou, Sarah, en my seun verskuldig wat my ondersteun en bygestaan het. Ek sien uit na nog baie jare in diens van Laerskool Ermelo,” het hy afgesluit.

Related Articles

Back to top button