Waterkrisis afgeweer

Groot dele van Ermelo se suidelike dorpsgebied is oor die afgelope naweek sonder lopende water gelaat

’n Dreigende waternood by Mediclinic Ermelo is Maandag afgeweer nadat die hospitaal se twee 5 000-liter opgaartenks leeggeloop het.
’n Noodroep is Maandagmiddag deur die Ermelo-plaaswag aan aan boere uitgestuur om die hospitaal by te staan en van water te voorsien.
Intussen is die dreigende krisis afgeweer toe ’n tenkwa van die Msukaligwa Munisipaliteit Maandagmiddag die tenks opgevul het nadat ’n versoek deur die hospitaalbestuur aan die munisipaliteit gerig is.
’n Boer, mnr. Hardus Aucamp, het ook op die noodroep gereageer en by die hospitaal aangekom met twee vol watertenks. Dié water is ook in die opgaartenks gepomp.
“Daar was op geen tydstip ’n krisis by die hospitaal nie en ons kon met die gewone dagtake voortgaan. Ons is dankbaar teenoor die munisipaliteit en boere dat hulle ons betyds kon help,” het Mediclinic se bestuurder, me. Welma Bertram, aan die Hoëvelder gesê.
Volgens die hospitaal se tegniese bestuurder, mnr. Nantes la Grange, is die watervoorraad in die opgaartenks normaalweg genoeg om die hospitaal vir sowat 24 uur met water te voorsien. Daar word egter beplan om bykomende opgaartenks op te rig.
Groot dele van Ermelo se suidelike dorpsgebied is oor die afgelope naweek sonder lopende water gelaat nadat daar volgens ’n verklaring deur die Msukaligwa Munisipaliteit “’n onbeplande onderbreking by die Jerichodam (Departement Waterwese en Bosbou) ontstaan het”.
Water kon dus nie deur die Usutu-pyplyn na die suidelike reservoirs gepomp word nie wat veroorsaak het dat die watervlakke in die reservoirs gedaal het.
Die watertoevoer na die betrokke deel van die dorp is wel Maandag teen omstreeks 22:00 herstel.
Volgens die munisipale woordvoerder, mnr. Mandla Zwane sou die watertoevoer aan die res van die dorp teen Dinsdag herstel gewees het.
Hy het die munisipaliteit se onvoorwaardelike verskoning aangebied aan inwoners vir die ongerief wat deur die watertekort veroorsaak is.

Exit mobile version