Local newsLocal sportNewsSport

Sanlam en Kansa werk saam in gholf-uitdaagreeks

Geld wat tydens die geleentheid ingesamel is, word aan Kansa oorhandig.

45 spelers het die afgelope Saterdag by die Ermelo-gholfbaan aangetree om aan die Sanlam/Kansa-uitdaagreeks deel te neem
Mans- en vrouegholfspelers het afsonderlik in drie afdelings volgens voorgee-groeperings teen mekaar meegeding. Geld wat tydens die geleentheid ingesamel is, word aan Kansa oorhandig.
In die mans se A-afdeling (voorgeë 0 tot 9 ) was Andries van Schalkwyk op 41 punte eerste, gevolg deur Sipho Simelane op 39 punte en Phillip Roux op 38 punte.
Thamie Seilbea op 38 punte, Charles Magagula met 38 punte op uittel en Gawie Rademeyer op 37 punte was onderskeidelik in die eerste drie plekke in die mans se B-afdeling (voorgeë 10 tot 18).
In die C-afdeling (voorgeë 19 tot 36) was Koos Reinecke op 41 punte die wenner, met T. Taljaard op 37 punte tweede en Lawrence Grabe op 36 punte in die derde plek.
Chanté Boonstra op 25 punte het met die louere weggestap in die vroue A-afdeling (voorgeë 0 tot 16).
In die B-afdeling vir vroue (voorgeë 17 tot 24) was Janice Swanepoel op 35 punte die wenner, gevolg deur Sarie Erasmus op 28 punte.
In die vroue C-afdeling (voorgeë 25 tot 36) was Belinda Howard op 21 punte die wenner met Engela Greyling met 21 punte op ’n uittel in die tweede plek.
Pryse vir naaste aan die pen is gewen deur Thamie Seilbea op nommer 4, Sipho Simelane op nommer 6, Patrick Thomo op nommer 14 en H. de Lange op nommer 16.
Ermelo se mansligaspelers het ’n goeie naweek op die gholfbaan beleef met oortuigende oorwinnings vir beide die A- en B-span. Die A-span het 8-0 oor Morgenzon Gholfklub geseëvier en die B-span het hul wedstryd 6-2 teen Badplaas Gholfklub gewen.
Eerskomende Saterdag word ’n IPS kompetisie ten bate van die kinderhuis op Ermelo gehou. Alle spelers word aangemoedig om deel te neem aangesien geld wat ingesamel word vir ’n baie verdienstelike doel aangewend sal word.

Related Articles

Back to top button