GeneralLocal newsNews

In gesprek met ‘n raakvat-vrou

Vars gebroude koffie, heerlike fyngebak en vier vriendinne om ’n tafel in Tuiskoop se koffiewinkel - die perfekte resep vir lekker gesels oor die goeie ou dae.

Vars gebroude koffie, heerlike fyngebak en vier vriendinne om ’n tafel in Tuiskoop se koffiewinkel – die perfekte resep vir lekker gesels oor die goeie ou dae.
In Elmarie Cilliers se reeks onderhoude met bekende en interessante Ermeloërs het sy dié keer met Rachie Woithe gesels.
Sandra Kritzinger, voorsitter van Tuiskoop, en Marietha Mentz het ook lekker saamgekuier.
Rachie het in 1959 ’n pos as onderwyseres by Laerskool JJ van der Merwe aanvaar en in Ermelo kom woon, waar sy die volgende jaar haar man, Gerhard, ontmoet het.
In 1962 het sy lid van die SAVF geword en in 1986 die pos van voorsitter by die SAVF-Huis aanvaar waar sy in 1998 as voltydse bestuurder aangestel is.
Sy word ook onthou as mede-eienaar van ’n spysenieringsaak, orrelis en president van Ermelo Rolbalklub, maar dis haar verbintenis met Tuiskoop wat haar so uniek maak.
Rachie was in 1970 een van die stigterslede van Tuiskoop en vertel van die beginjare toe Tuiskoop gestig is om boervroue wat nie elke dag dorp toe kan ry om te werk nie, die geleentheid te gee om ’n inkomste te verdien.
Sy vertel ook van Burd Roberts, destydse hoof van Laerskool JJ van der Merwe en later joernalis by die Hoëvelder, se entoesiasme vir die nuwe onderneming en die koerant se aandeel in die sukses van Tuiskoop.
Terwyl Rachie van die ou dae vertel het, het Sandra haar meer vertel van die meer onlangse suksesse.
Die vier Tuiskopers kon nie uitgepraat raak oor al die lekker tye saam op kongresse nie en vele staaltjies is gedeel.
Rachie en haar man het in 2002 na Bronkhorstspruit verhuis waar sy reeds haar merk in die gemeenskap gemaak het.
Die onderhoud behoort oor drie weke op youtube te sien te wees. ’n Skakel na die opname kan gevind word op Elmarie se webblad www.minischnauzers.co.za.
Die skakel na Elmarie se onderhoud met Hettie McKay is ook nou op die blad beskikbaar.

Related Articles

Back to top button