EHS sluit eerste eeu glansryk af

’n Hoogtepunt van die aand was die onthulling van die gedenkmuur

’n Erewag van Erries met vlaggies het gaste verlede Donderdagaand verwelkom by die EHS se glansaand wat in die ABK van Zijl-kunstesentrum aangebied is.

Die honderde rooi rose waarvan die eerste groot rangskikking reeds in die voorportaal gepryk het en ’n ry kleiner rangskikkings op die hele voorpunt van die verhoog sowel as die stylvolle manier waarop daar aan selfs die fynste detail aandag gegee is, het ’n besonderse atmosfeer aan dié geleentheid verleen.

Ná die vlagseremonie gelei deur dr. Frans Boshoff en die sing van die skoollied, het die EHS-praatgroep meer oor die storie agter die skoollied vertel.

Ds. Jaco van Niekerk het die opening behartig en ds. Marius Smit het almal welkom geheet.

Daarna was dit tyd vir een van die hoogtepunte van die aand, die onthulling van die gedenkmuur.

Mnre. Koos Kruger, Johannes Vos en Douw Joubert het na buite beweeg om die muur te onthul, terwyl gaste in die geskiedkundige oomblik via videobeeldmateriaal kon deel.

Hoofde, adjunk-hoofde, beheerliggaamvoorsitters, ere-Errie Unielede en personeellede met ’n dienstydperk van ’n dekade en meer asook geliefde Erries wat nie meer met ons is nie word almal op die muur vereer.

Me. Jessica Botha (née Human), hoofdogter 2003, mnr. BP Greyling, beheerliggaamvoorsitter 2009 tot 2011, mnr. D.J. Opperman, oudleerling 1944 tot 1947 en me. Saartjie Spies, nasaat van ds. Paul Nel, was die gassprekers.

Me. Vera Alberts het die bekendstelling van die gedenkalbum behartig waarna daar aan mnre. Johan Coetzer, Hein Mentz, Spiere van Rensburg (afwesig), Koos Kruger, Bok Martins en me. Elma Greyling (née van Zijl) elk ’n gedenkalbum oorhandig is.

Ná ’n toekomsblik deur mnr. Bok Martins, ’n musiekitem deur die musieksentrumonderwysers en bedankings deur Carla Delport en JT Erlank, die Erries se hoofdogter en -seun, het al die gaste na buite beweeg vir die onthulling van die Eeufeesgedenkteken.

Gaste het toe na die saal beweeg waar hulle heerlik saam gekuier het en die lekkernye geniet het wat gemaak is van resepte uit die Errie-kookboek.

Dit was voorwaar ’n aand om te onthou en baie geluk aan elke Errie wat bygedra het tot die sukses van dié glansgeleentheid.

Die EHS-gedenkalbum en resepteboek kan by die skool bestel word.

Die Erries Kook-resepteboek is ook by die Hoëvelder se kantore beskikbaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version