CrimeEditor's choiceNews

De Villiers-egpaar herstel ná aanval

“Dit is ’n onhoudbare situasie wat reggestel moet word.''

Terwyl mnr. JR Bührmann wat voorverlede naweek op sy plaas om die lewe gebring is, Dinsdagoggend te ruste gelê is, herstel die De Villiers-egpaar van die beserings wat hulle opgedoen het in ’n tweede wrede plaasaanval in die distrik binne ’n week.

Mnr. Bührmann was die afgelope 29 jaar die eienaar van die geskiedkundige plaas De Emigratie en alombekend vir sy insig in en staaltjies oor die geskiedenis van die omgewing.

Sy liggaam is die Maandagoggend in sy huis ontdek nadat boosdoeners daar ingebreek het.

In die jongste voorval is mnr. Edward de Villiers (76) en sy vrou Ina (73) verlede Donderdag in die vroeë oggendure op hul plaas Blaauwkop naby Ermelo deur drie onbekende mans wreed aangerand en met kookwater en ’n strykyster gebrand.

Die aanval op die egpaar het die gemeenskap geskok en wye reaksie ontlok. Die berig is enkele ure ná die voorval op die Hoëvelder se sosialemediablaaie Looklocal en Facebook geplaas en is deur meer as 2 750 lesers gesien.

Die De Villiers-egpaar is kort ná die voorval in die Mediclinic Ermelo vir hul beserings behandel en dieselfde oggend na die Milpark-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas. Hulle toestand is Dinsdag deur ’n familielid as “bestendig” beskryf.

“Die dokters vertrou dat oom Edward binnekort ontslaan sal word, maar tannie Ina sal nog ’n rukkie in die hospitaal moet bly om te voorkom dat infeksie by haar wonde intree. ’n Besluit sal ook binnekort geneem word oor moontlike veloorplantings vir haar. Hulle het ook berading in die hospitaal ontvang,” het die familielid gesê.

Volgens polisie op die toneel het die drie aanvallers omstreeks 02:30 toegang tot die huis gekry en die egpaar in hul slaapkamer verras. Hulle is daarna minstens 90 minute lank geslaan, gemartel en met kookwater en ’n strykyster gebrand terwyl die aanvallers op soek was na wapens, geld en die kluis se sleutels.

Die aanvallers het omstreeks 04:00 met geld, wapens en ’n kluis in die egpaar se bakkie op die vlug geslaan.

Mnr. De Villiers kon daarin slaag om ’n familielid, mnr. Japie Celliers, op ’n naburige plaas per radio te skakel.

Mnr. Celliers het lede van die plaaswag in kennis gestel en hom na die toneel gehaas om die slagoffers by te staan.

Intussen het twee van die aanvallers met die egpaar se bakkie in die rigting van Ermelo gejaag, maar is deur lede van die plaaswag agternagesit. Daar word vermoed dat die derde verdagte in die aanvallers se eie voertuig gevlug het.

Die bakkie het buite Ermelo naby die weegbrug op die pad na Breyten van die pad geloop en teen ’n wal tot stilstand gekom. Skote is op lede van die plaaswag gevuur. Die twee insittendes het in die donkerte op die vlug geslaan.

Speurders en forensiese deskundiges van die polisie was vinnig op albei tonele en het die gebiede vir leidrade gefynkam.

Niemand is tot dusver in verband met die twee voorvalle aangekeer nie.

Die TLUSA Oos Streek Mpumalanga het die moord op mnr. Bührmann asook die wrede aanval op die De Villiers-egpaar ten sterkste veroordeel.

“Ons glo die barbaarse lafaards sal aangekeer word en vir hul wandade boet. Die voorvalle is nog ’n voorbeeld van die wetteloosheid op die platteland wat boere direk raak. Hier is nog skakels in die voedselketting van die land verwyder. ’n Beroep word weer eens op die polisie gedoen om ’n spesialis-eenheid op die been te bring wat die nodige beskerming aan boere van alle rasse kan verskaf,” het mnr. Danie du Plessis, bestuurder van TLU Oos-streek, in ’n verklaring gesê.

Mnr. Janneman Robberts, voorsitter van TLU Oos-streek, het gesê die barbaarse marteling van die De Villiers-egpaar is nie tekenend van ’n gewone roof nie en dui op intimidasie van die boeregemeenskap. Dit word verwag dat soortgelyke wandade teen boere in die aanloop tot die verkiesing gaan toeneem en boere gaan geen ander keuse hê as om hulself te verdedig nie.

“Die vraag moet egter gevra word hoeveel burgers van die RSA moet nog gedood, beroof en geteister word voordat die regering gaan optree. Sedert die ANC aan bewind gekom het, is meer as 500 000 burgers gedood wat boere, wit en swart, insluit.

“Dit is ’n onhoudbare situasie wat reggestel moet word.

“Dit is tyd dat die kommandostelsel en die Landelike Veiligheidsplan in Mpumalanga weer in plek gesit word,” het mnr. Robberts afgesluit.

Related Articles

Back to top button