GeneralLocal newsNews

Oudlede van SANAB op Ermelo byeen

SANAB was ’n uiters suksesvolle teendwelmeenheid van die polisie wat in 1973 deur ’n parlementêre proklamasie in die lewe geroep is.

Meer as 50 oudlede van die Suid-Afrikaanse Narkotikaburo (SANAB) het die afgelope naweek op Ermelo bymekaargekom om ou bande te hernu en ervarings te deel.

Oudlede van dié eens uiters suksesvolle eenheid het van oral in die land en selfs van buite die landsgrense gekom om die reünie by te woon wat van Vrydag tot Sondag in die Ligbron-lapa gehou is.

Hooforganiseerder, mnr. Renier Botha, wat 19 jaar in die eenheid gedien het, het gesê hy is oorweldig deur die belangstelling en opkoms van die manne. Mark Coulhon het spesiaal van Kaboel in Afghanistan gereis om die byeenkoms by te woon.

“Daar was onder meer drie oudgeneraals, -brigadiers, -kolonels en almal wat die reünie bygewoon het, het oor jare se kundigheid en ervaring in die oorlog teen dwelms beskik. Net tussen dié klomp manne het ons meer as 520 jaar se gesamentlike ondervinding getel. Die gees onder die groep was onbeskryflik,” het hy gesê.

Netjiese hemde en pette met ’n embleem wat spesiaal vir die geleentheid ontwerp is, is aan die oudlede beskikbaar gestel.

SANAB was ’n uiters suksesvolle teendwelmeenheid van die polisie wat in 1973 deur ’n parlementêre proklamasie in die lewe geroep is.

Die eenheid is 10 jaar gelede deur die destydse kommissaris van polisie, Jackie Selebi, op eie inisiatief ontbind om, soos hy dit gestel het, die werksaamheid van die polisie te sentraliseer.

Sedertdien het dwelmhandel landwyd met rassse skrede toegeneem. Een rede daarvoor is dat daar nie meer spesialis polisie-eenhede is om dwelmhandelaars te infiltreer en op grondvlak te pak nie.

Oproepe vanuit verskeie oorde om die eenheid weer op die been te bring, het tot dusver niks opgelewer nie.

Related Articles

Back to top button