Gemeenskap geruk deur plaasmoord

Hulle het ’n buurman geskakel en by sy aankoms het hy die huis binnegegaan en op mnr. Bührmann se liggaam afgekom.

’n Bekende boer van die plaas De Emigratie naby Ermelo, mnr. JR Bührmann (77), is Maandagoggend dood in sy plaashuis aangetref.

Polisiewoordvoerder kapt. Carla Prinsloo het gesê plaaswerkers het soos gewoonlik Maandagoggend buite die opstal gewag en onraad vermoed toe hul werkgewer nie uit die huis gekom het nie.

Hulle het ’n buurman geskakel en by sy aankoms het hy die huis binnegegaan en op mnr. Bührmann se liggaam afgekom. Die liggaam was in plastiek toegedraai en het op die vloer in een van die slaapkamers gelê. Die huis was ook deurmekaar gekrap.

Die polisie is ontbied en het die toneel vir leidrade gefynkam.

Dit blyk dat die aanvaller of aanvallers deur ’n skuifdeur toegang tot die huis verkry het.

Daar is vasgestel dat daar ’n week vantevore by mnr. Bührmann se huis ingebreek is, maar dit is nie bekend of die twee voorvalle met mekaar verbind kon word nie.

Die oorsaak van mnr. Bührmann se dood was teen druktyd nie bekend nie.

Die polisie-ondersoek duur voort.

Exit mobile version