CrimeLocal newsNews

Gastehuis helder oordag beroof

Onwetend het die bestuurder na haar skootrekenaar teruggekeer en met haar werk voortgegaan.

’n Bekende gastehuis in die dorp is die middag van Dinsdag 5 Maart beroof.

Volgens die bestuurder, het vier mense (’n man en drie vroue) in ’n rooi motor net ná 16:00 by die gastehuis opgedaag en wou plek bespreek vir die einde van die maand.

Hulle het daarop aangedring om die buitekamers te sien en die bestuurder het ingestem om hulle te wys.

Terwyl hulle in gesprek in die ontvangsarea was, het een van die vroue in die gang afgestap, ’n kamer binnegegaan en ná ’n kort tydjie weer by die ander aangesluit.

Die gastehuis wat uit kamers in die hoofhuis en buite bestaan, is toegerus met kameras op strategiese plekke, waarvan die booswigte klaarblyklik nie bewus was nie.

Die bestuurder het geen rede gehad om onraad te vermoed nie, en een van die vroue en die man het haar na die kamers gevolg, terwyl die ander twee vroue in die ontvangslokaal gewag het.

Met die twee wat haar buite besig gehou het en een op die uitkyk by ontvangs, het die ander vrou weer in die gang af beweeg na die bestuurder se kamer. Ná ’n lang ruk is sy weer terug na ontvangs, waarna sy weer na die kamer toe gegaan het.

Toe die verste kamers op die perseel besigtig is, het die ander vrou die huis ingekom en na die kombuis gegaan, in ’n kas rondgekrap en iets in haar sak versteek.

Sy het só vinning beweeg dat sy reg langs die tafel waarop die bestuurder se skootrekenaar en drie selfone gelê het, verby geloop het het sonder om dit raak te sien.

Daarna is die twee buite toe waar hulle voorgegee het dat hulle heeltyd buite gewag het.

Hulle almal het rustig na hul voertuig beweeg, een vrou het omgedraai en ’n besigheidskaartjie gaan vra, waarna hulle gery het.

Onwetend het die bestuurder na haar skootrekenaar teruggekeer en met haar werk voortgegaan.

Dit was eers ’n paar ure later toe sy na haar kamer toe gegaan het dat sy besef het iets is nie pluis nie.

Sy het vasgestel dat die gastehuis se geldkissie weg is, die kamera teruggespeel en gesien hoe dié vier mense haar beroof het.

Hulle het met juwele ter waarde van R1 600, R500 uit haar beursie, die geldtrommel met R3 500 daarin, verskeie klein artikels van lugverfrisser tot die klein gastesepies en vyf afstandbeheerders vir die hek weggekom.

Die bestuurder vermoed dat hulle op soek was na die spaarsleutels toe die vrou in die kombuiskas gekrap het, en dat hulle van plan is om terug te kom.

Related Articles

Back to top button