Local newsNews

Elma is ‘n vrou van vele talente

Elma is sê sy is baie bevoorreg, sy sien elke dag mense wat bedlênd is, mense wie se verstand wegkwyn en mense wat nie meer kan sien of hoor nie en sy is dankbaar dat die Here vir haar so goed is.

Me. Elma Ferreira, jarelange inwoner van Ermelo, is voorwaar ’n vrou met vele talente.

Ná die afsterwe van haar man het dié boervrou dorp toe getrek en woon sy die laaste vyf jaar in ’n woonstel by die SAVF-Huis.

Met die intrapslag merk mens op dat sy ’n vrou vol energie is: in die voorkamer staan die koffers reeds gepak vir die naweek se uitstappie na Johannesburg.

Opgewonde vertel sy hoe bevoorreg sy is om die Hobby X-skou te gaan bywoon.

Elma het in Desember haar 80ste verjaarsdag gevier en spog met sewe kinders, 15 kleinkinders en een agterkleinkind.

Sy het op Betlehem skoolgegaan en vertel nostalgies van haar sanglesse by Madame Elsa Partis van Frankryk. Haar liefde vir musiek het sy ook aan haar kinders oorgedra.

Volgens Elma was sy ’n goeie veldatleet en ’n kranige swemmer. Sy swem steeds graag en probeer om twee maal ’n jaar Badplaas toe te gaan om in die warmbronne te swem.

As jonggetroude boervrou het Elma haarself leer naaldwerk doen en sodoende gesorg dat die kinders altyd goed geklee was. Haar man het ander boere in die distrik gehelp met oestyd en het later jare vir hulle twee tennisbane op die plaas gebou waar die familie tot laat saans saam gespeel het.

Elma en haar man het 33 jaar gelede na Ermelo verhuis waar sy haar eie pottebakkery-ateljee op die plaas gehad het. Sy het by die gevangenis vir die langtermyn mansgevangenes in dié kuns klasse aangebied en later ook met klasse by Ermelo Tegniese Kollege begin.

Elma se skilderye pronk teen haar woonstelmure en dit is duidelik dat sy baie talentvol is. Op ’n vraag of sy nog altyd lief was vir skilder, het sy skamerig gelag en vertel dat kuns nie juis haar beste vak op skool was nie. Sy het in 1992 begin skilder en het klasse by Beau van Zyl geneem. Afgesien van skilder, doen sy ook graag mosaïekwerk, “scrap booking” en kraleryg.

Haar werkskamer is vol projekte waarmee sy tans besig is. Tussendeur is sy ook besig om blokke te brei vir ’n kniekombers wat sy aan ’n minderbevooregte mens wil gee.

Dié dinamiese vrou se hande is nie vir ’n oomblik ledig nie en wanneer sy nie besig is met een van haar gunsteling projekte nie, neem sy deel aan die aktiwiteite wat die SAVF bied.

Elma en haar vriendinne speel vier keer ’n week kaart en sy sê dis goed om die brein bietjie te laat werk. Elma is sê sy is baie bevoorreg, sy sien elke dag mense wat bedlênd is, mense wie se verstand wegkwyn en mense wat nie meer kan sien of hoor nie en sy is dankbaar dat die Here vir haar so goed is.

“Ek leef om die Here te dien. Ek wil, kan en sal die Here dien – dit is my doelwit in die lewe.”

Related Articles

Back to top button