MAN sy bene kwyt

‘Ons het op ’n tweede mening aangedring, omdat daar reeds uiteenlopende diagnoses gemaak is sonder enige verbetering daarna’

Ná die verskyning van die voorbladberig “Hospital Shocker” (Hoëvelder 17 Februarie) het nog mense na vore gekom met verhale van beweerde nalatigheid en haglike toestande in die Ermelo Provinsiale Hospitaal.

Een só ’n geval is dié van mnr. Michael Bekker van Ermelo wie se bene albei geamputeer is.

“Alles het in November 2012 begin toe hy onder andere met ’n beroerte gediagnoseer is. Hy is ná ’n lang gewag in die Ermelo Provinsiale Hospitaal ondersoek deur talle dokters en susters wat elkeen ’n ander diagnose gegee het.

“Hy is na Witbank Hospitaal gestuur waar ’n skandering ’n beweerde gewas op die brein getoon het. Daar is gesê dat daar nie ’n definitiewe diagnose gemaak kon word nie, omdat die X-strale onduidelik was. Hy is toe na ’n hospitaal in Nelspruit gestuur waar hy met ’n lekkende aar in die brein gediagnoseer is. Geen medikasie is voorgeskryf nie, omdat die oorsaak van die probleem nie met sekerheid vasgestel kon word nie,” het ’n familielid gesê.

Hy is dieselfde dag huis toe gestuur.

Volgens die familielid moes hy daarna wag sodat ’n MRI-skandering gereël kon word. Dit het egter nooit gebeur nie.

Later het Michael ’n bloedspikkel-uitslag op sy bene en voete ontwikkel en begin krampe kry. Hy is terug Ermelo Hospitaal toe waar ’n allergie gediagnoseer en medikasie vir maagkrampe voorgeskryf is.

Volgens die familielid het die spikkels verkleur en ná ’n ruk het die krampe vererger. ’n Pers lyn was op sy linkervoet sigbaar en albei bene het opgeswel.

“Ondanks talle bloedtoetse kon die oorsaak nie vasgestel word nie. Hy het erge pyn verduur en is wéér terug hospitaal toe en met sy derde besoek is hy opgeneem. Die dokters was raadop en daar is gesê dat as hy ’n Zoeloe was, sou hulle geglo het dat hy getoor was. Hy is toe na ’n senior geneesheer in die hospitaal verwys,” het die familielid gesê.

Bloedtoetse is dadelik uitgevoer en daar is gemeen dat bloedklonte in sy bene gevorm het. Hy is ná behandeling ontslaan met opdrag om ná ’n maand terug te keer vir ’n opvolgondersoek.

Ná slegs ’n paar dae kon hy egter nie meer die pyn verduur nie en hy is weer terug hospitaal toe.

Teen dié tyd het pers kolle op sy voetsool begin uitslaan en was die pyn so erg dat hy dit moeilik gevind om te loop.

’n Dokter het bevind dat daar geen bloedsomloop in die voet was nie en het voorgestel dat die voet geamputeer moet word.

“Ons het op ’n tweede mening aangedring, omdat daar reeds uiteenlopende diagnoses gemaak is sonder enige verbetering daarna. Michael is toe na die Steve Biko Hospitaal in Pretoria verwys.”

Hy was drie dae lank in dié hospitaal. Toetse het glo ’n abses op die aorta-klep van die hart as die oorsaak van al die probleme uitgewys.

“Dit was reeds te laat om die voet te red en sy linkerbeen is onder die knie geamputeer,” het die ontstoke familielid gesê.

Na bewering moes ’n noodoperasie op sy hart uitgevoer word, maar die abses moes eers onder beheer gebring word.

Daar was glo ook nie ’n hartoperasiepakket vir hom beskikbaar nie en hy moes noodgedwonge wag.

In dié tydperk het die toestand van sy regtervoet en -been ook vererger. Daar is aan die familie verduidelik dat die operasie op sy hart lewensgevaarlik, maar nogtans noodsaaklik was.

As die abses tydens die operasie gebars het, sou dit noodlottig wees.

Die operasie waarin ’n hartklep vervang is, is as suksesvol beskou, maar die toestand van Michael se regterbeen het bly vererger weens die vermoedelike verspreiding van gangreen.

Volgens die familielid het sere op sy voet begin vorm en oopgebars. Ná ’n maand is hy uit die intensiewesorgeenheid ontslaan en het tuis op Ermelo aangesterk.

Hy het medikasie ontvang en die wond moes tuis versorg word.

“Die wond wou egter nie genees nie en hy is vir die soveelste keer terug na die Ermelo Provinsiale Hospitaal waar dieselfde prosedures gevolg is as wat tuis gedoen is,” het die familielid gesê.

Daar is voorgestel dat hy met die behandeling tuis moes voortgaan.

Hy is weer ’n keer hospitaal toe waar daar gesê is dat dié been ook geamputeer moet word. Die been is toe bo die knie afgesit.

Met sy ontslag uit die hospitaal is hy na bewering ’n Voltaren-inspuiting toegedien. Dit het ook later ’n groot pers kol gevorm wat in ’n diep seer ontwikkel het.

“Michael is tans baie verward en verbitterd oor die trauma wat hy verduur het. Hy is soms baie aggressief en onredelik. In die Steve Biko Hospitaal het dokters erken dat ’n korrekte, vroegtydige diagnose Michael se bene heelwaarskynlik sou gered het.

“Volgens personeel van die Ermelo Provinsiale Hospitaal word pasiënte eers na ander hospitale verwys wanneer hulle nie meer in dié hospitaal gehelp kan word nie.”

Familielede meen egter personeel van die Ermelo Hospitaal het van meetaf geweet Michael kon nie gehelp word nie en kon ook nie die rede of oorsaak van die siektetoestand bepaal nie. Hulle meen Michael moes van die begin af na die Steve Biko Hospitaal verwys gewees het voordat dit te laat was.

“Afgesien van al die pyn en lyding, moes hy in haglike, vuil toestande in die hospitaal verkeer en het al so ver gegaan om homself uit die hospitaal te ontslaan, omdat dit vir hom te veel was om te verdra,” het ’n familielid gesê.

Exit mobile version