Birk-moordenaar gevonnis

Die emosionele aftakeling op mnr. Birk en sy familie sedert die moord is ook in ag geneem met vonnisoplegging.

Mxolisi Malinga (28) wat op die moord van me. Annamarie Birk op 7 September 2012 tereggestaan het, is verlede Donderdag tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.

Die vonnis is deur regter Makgoka in ’n Hooggeregshofsitting in die Streekhof op Ermelo gevel. Malinga is tot ’n verdere drie jaar gevangenisstraf gevonnis vir diefstal met verswarende omstandighede.

Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.

Me. Annamarie Birk, ’n begaafde musiekonderwyseres wat aan die Hoërskool Ermelo verbonde was, is op 7 September 2012 ’n dag ná haar 41ste verjaardag wreedaardig in haar huis vermoor. Sy is verskeie kere met ’n skerp voorwerp gesteek en haar keel is afgesny. Slegs haar selfoon is uit die huis verwyder. Die foon is later in ’n sloot naby die Ermelo Provinsiale Hospitaal gevind.

Me. Birk se man, Lodewyk, is aanvanklik ook daarvan verdink dat hy by die moord betrek was, maar die aanklagte teen hom is later teruggetrek.

Tydens die verhoor is daar onder andere aangevoer dat Malinga, wat as tuinier van die Birk-egpaar gewerk het, ’n bedrag van R20 000 deur mnr. Birk aangebied is om ’n “job” te doen.

Hy het getuig dat mnr. Birk nie aan hom verduidelik het wat die werk sou behels nie. Hy het ook aangevoer dat mnr. Birk hom vroeg op die dag van die moord geskakel het en hom na die huis ontbied het. Hy het beweer dat mnr. Birk egter met sy aankoms aan hom gesê het dat hy hom net R10 000 sou betaal, aangesien hy (Birk) die “werk” reeds gedoen het.

Regter Makgoka het egter in sy uitspraak dié getuienis verwerp en gesê Malinga het sy getuienis gerieflikheidsonthalwe aangepas om sy onskuld te probeer bewys.

DNA-toetse het bewys dat ’n bloedspikkel wat in die huis gevind is, aan Malinga behoort het.

“Dit is bewys dat Malinga in die huis was,” het regter Makgoka gesê.

Tydens die verhoor is daar telkemale deur Malinga se die verdediging verwys na mnr. Birk se beweerde betrokkenheid by die moord, maar regter Makogoka het vermaan dat hy (Birk) nie die een was wat verhoor word nie.

Mnr. Birk, wat deurentyd in die hof was tydens Malinga se verhoor, se moeder het hom bygestaan.

Regter Makgoka het ook in sy uitspraak gesê dat hy die belange van die gemeenskap in gedagte moes hou in oorweging van ’n gepaste vonnis en dat ’n mindere vonnis as lewenslank die verkeerde boodskap aan die gemeenskap sou stuur. Hy het die wrede manier waarop me. Birk vermoor is en die feit dat Malinga nie berou getoon het nie, behalwe om onskuldig te pleit, as verswarende omstandighede beskou.

Die emosionele aftakeling op mnr. Birk en sy familie sedert die moord is ook in ag geneem met vonnisoplegging.

Mnr. Birk het ná die uitspraak in ’n kort gesprek met die Hoëvelder sy verligting uitgespreek en gesê dat hy verheug is dat alles verby is.

Exit mobile version