‘Mama Bettie’ het oop hand

“Dit maak my hart bly, ons mense kan vir onsself kos gee, maar die voëls nie. Ons moet vir hulle sorg.”

’n Bekende gesig met haar stalletjie oorkant die langafstand taxistaanplek is Martha Zwane, beter beked as Mama Bettie, die gôg wat die duiwe voer.

Sy bedryf al 27 jaar lank haar sypaadjie-onderneming. Elke oggend van 04:30 is sy besig om haar stalletjies op te slaan en voorraad uit te pak.

Enigiets van droëbone, mielies, ’n verskeidenheid hoofbedeksels van pette tot hoede en veelkleurige strooikussings asook ’n publieke telefoon is daar te kry.

Maar daar is iets baie besonders aan dié dinamiese sakevrou, so die wekker is gestel en vroegoggend is die Hoëvelder se joernalis uit die vere om die ware Mama Bettie te leer ken.

Daar aangekom, is die strate nog stil met Martha reeds druk besig om haar stalletjies op te slaan.

Met ’n breë glimlag groet sy en wys trots die area uit waar sy sake bedryf.

Intussen begin duiwe saamdrom en sy haal ’n emmer vol mieliepitte onder die tafel uit, stap nader en begin met die duiwe praat asof hulle haar kinders is.

Elke handvol mieliepitte word met liefde gestrooi en vir ’n oomblik is dit asof dit net Martha in gesprek met haar geliefde duiwe is, terwyl hulle lustig die pitte oppik.

Martha vertel glimlaggend dat sy haar litte moet roer as die geveerdes begin naderstaan, want as sy nie gou genoeg na hulle sin vir hulle kos gee nie, klim hulle op haar.

Gevra hoekom sy haar oor die duiwe ontferm, druk Martha haar hand teen haar hart en sê: “Dit maak my hart bly, ons mense kan vir onsself kos gee, maar die voëls nie. Ons moet vir hulle sorg.”

Martha vier op Valentynsdag haar 61ste verjaarsdag en haar wens is om nog lank vir die voëls gespaar te bly.

Mama Bettie is voorwaar ’n inspirerende vrou en ná ’n ontmoeting met haar kan mens nie anders as om met ’n glimlag en ’n hart vol vreude en liefde weg te stap nie.

Exit mobile version