Local newsNews

Reus in 1914 gebore

’ Maar beslis het ek aan hom gesê: “Ou Jannie, ek sal my hoërskool op Ermelo kry.’

Hoërskool Ermelo vier vanjaar met trots sy 100ste bestaansjaar en dink met nostalgie terug aan die man wat sy visie in ’n werklikheid omskep het.

In die dae van die Zuid-Afrikaansche Republiek was daar reeds ’n skool op Ermelo en kort ná die oorlog is daar ook ’n regeringskool tot stand gebring.

Afrikaners het egter in opstand gekom teen die beleid van verengelsing en onder leiding van die kerk is besluit om soveel moontlik Christelik-Nasionale skole deur die land te stig. Hier op Ermelo is op wyle mnr. W. Bührmann se plaas Uitkomst ook ’n C.N.O.-skool gestig, waarvan me. A.E. Adriani aan die hoof gestaan het.

In 1904 is die Uitkomstskool na die dorp verskuif, wat gelei het tot die bestaan van twee skole op Ermelo, een met ’n Afrikaanse gees en die ander met ’n Engelse.

Ds. Paul Nel het met sy

aankoms in Ermelo (1907)

dadelik deel gehad in die oprigting van

’n koshuis vir seuns by die Uitkomst-skool. Die ou pastorie is vergroot, en in 1908 kon die koshuis meer as 30 seuns huisves. In die eerste kwartaal was die getalle egter soveel hoër dat nog ’n verdieping by die Hugenote-tehuis opgerig is en voorsiening gemaak is vir dogters se verblyf by die Uitkomst-skool.

Ds. Nel het hom beywer vir die samesmelting van die staatskool en die Uitkomstskool, ’n plan wat dadelik die Direkteur van Onderwys se goedkeuring weggedra het. Ds. Nel se verdere roeping was egter om ’n hoërskool op Ermelo tot stand te bring en het dié versoek spoedig aan die Minister van Onderwys, Genl. Smuts, gerig.

“Vriendelik het die Minister my in sy kantoor ontvang, maar ewe beslis en kortaf geweier om my die hoërskool te gee met die woorde: ‘Nee, jy sal dit nie kry nie.’ Maar beslis het ek aan hom gesê: “Ou Jannie, ek sal my hoërskool op Ermelo kry.’ Vier-en-’n-half jaar daarna kom ek in Pretoria en sê aan hom: ‘Ou Jannie, ek het my hoërskool.’

Hy staan op, vat my hand en sê: ‘Hartlik geluk! Mag die skool bloei.’”

Teen die einde van 1913 is die skool toegestaan en in April 1914 het dit sy intrek in die Uitkomstskool-gebou geneem met ds. Nel se dogter, Janie Antonia, as eerste inskrywing.

Tussen 70 en 80 leerlinge was ingeskryf met die opening van Hoërskool Ermelo.

Op 19 April 1921 is die skoolgebou op die huidige terrein in gebruik geneem.

In April 1914 is ’n reus gebore en vandag staan hy, net so trots soos altyd – Hoërskool Ermelo, die reus van die Hoëveld.

Alle eer aan ds. Paul Nel en al die manne en vroue wat saam met hom die droom gedeel het, want vandag leef die Erries dié droom…’n EHS-werklikheid.

Hou volgende week se Hoëvelder dop vir die volgende stukkie geskiedenis.

Related Articles

Back to top button