Hoëveld Landboufees is om die draai

Bekende Afrikaanse kunstenaars sal saans sorg vir vermaak op die verhoog.

Die Hoëveld Landboufees wat van 6 tot 8 Maart op die skouterrein gaan plaasvind, belowe pret vir groot en klein.

Bekende Afrikaanse kunstenaars sal saans sorg vir vermaak op die verhoog.

Donderdagaand, 6 Maart sal Monique en Theuns Jordaan te hoor en te sien wees.

Vrydagaand sal Adam Tas en DJ Ossewa optree en Saterdagaand

sal David Fourie en Snotkop die skou afsluit.

Armand die Singende Cowboy

en sy perd sal ook weer deur die dag optree.

’n Miniverhoog sal deur die dag sorg vir musiek en vermaak.

Vir die kinders sal die pretpark weer die groot aantrekkingskrag wees en

Ollie die Nar en ’n mini-sirkus sal ook sorg vir pret.

Gesigverf en balonne wat in figuurtjies verander sal ook die kinders naderlok.

Perde, beeste, skape en pluimvee sal deurlopend geskou word.

Saterdag sal ’n ander baadjie as vorige jare aantrek wanneer daar onder leiding van Oubaas de Jager ’n familiedag

gehou word wat boeresportitems soos toutrek, eiergooi, sakresies, kruiwaresies, vlagresies en vele meer insluit.

Die rofstoei wat verlede jaar groot aftrek gekry het, sal Saterdag weer plaasvind.

Die kosstalletjies, restaurant en biertent sal sorg dat niemand honger of dors sal wees nie.

Vir die inkopie-lustiges sal die stalletjies in die sale en op die terrein meer as genoeg bied.

Meer inligting oor wat vanjaar se Landboufees sal bied, sal oor die volgende paar weke in die Hoëvelder verskyn

Exit mobile version