Editor's choiceLocal newsNews

Borrelende lag is stil

Elke dag was vir haar ’n uitdaging wat sy ten volle aangedurf het’

Elizma Geldenhuys se borrelende lag en vrolike geaardheid sal nog vir lank in die harte van haar familie, vriende en kliënte voortleef.

Dié 24-jarige haarkapper is Saterdagmiddag dood nadat die voertuig waarin sy en haar vriend, Kobus Basson, gereis het in ’n botsing met ’n ander motor buite Ermelo op die pad na Piet Retief betrokke was.

Twee passasiers van die ander voertuig, Suvuso Moses en Pinky Thwala, is ook dood en die bestuurder is lig beseer.

Kobus is vir sy beserings in die Ermelo Provinsiale Hospitaal behandel en Maandagmiddag ontslaan.

Elizma is op 13 April 1989 in Vryheid gebore en die gesin het na Ermelo verhuis toe sy twee jaar oud was.

Sy was ’n leerling van Laerskool JJ van der Merwe en nadat sy aan Ligbron Akademie vir Tegnologie gematrikuleer het, het sy in die Kaap by Northlink Kollege haarkappery, bemarking en bestuur en moderne grimering gaan studeer.

Elizma was ’n goeie netbalspeler, het akademies goed gevaar en is in haar gr. 11-jaar as Mej Liggie aangewys.

’n Oudonderwyser beskryf haar as een van daardie leerlinge wat jy om die regte redes ná al die jare steeds onthou en presies waar sy in jou klas gesit het.

Nadat sy ’n jaar in die Kaap gewerk het, het haar wortels geroep en het sy teruggekeer Ermelo toe.

Sy het ’n tyd lank by Heads Inn Salon gewerk en daarna die dapper sprong gemaak om haar eie salon, Studio 7, te begin.

Baie gou was sy geliefd onder haar kliënte en was haar afspraakboek elke dag vol. Haar kliënte onthou haar vir haar opgeruimdheid, haar lag wat altyd in die salon weerklink het en die passie wat sy vir haar werk gehad het.

Haar ouers, Theo en Salome, het tydens hul gesprek met die Hoëvelder vertel van hul middel-dogter wat ’n mens in eie reg was. Sy het onder haar familie en nabye vriende as Vissie bekend gestaan omdat sy kleintyd so lief was vir vissmeer op haar brood. Hulle het haar beskryf as ’n borrelende, selfversekerde, reguit en vergewensgesinde mens.

“Elke dag was vir haar ’n uitdaging wat sy ten volle aangedurf het. Sy was geliefd en het altyd ’n goeie woord vir almal gehad, maar was tog ’n baie privaat mens,” het Salome gesê.

Vir haar twee sussies, Charine en Simoné, was sy die sussie wat altyd daar was vir hulle.

Dit was nooit vir haar te veel moeite om hul hare te versorg en hulle met raad en daad by te staan nie.

“Sy was my steunpilaar, ’n voorbeeld vir my en het gereeld tyd ingeruim in haar besige lewe om vir my in Middelburg te kom kuier. Ek sal altyd lief wees vir haar en gaan haar baie mis,” het ’n hartseer Simoné gesê.

Elizma het ’n groot vriendekring gehad en het saam met ’n groep van sowat 25 vriende in Amersfoort die nuwe jaar ingewag.

“Min het ons geweet dit sou ons laaste kuier saam wees,” het een van haar beste vriendinne gesê.

Hulle onthou haar as die een in die vriendekring wat altyd foto’s geneem en gesorg het dat Facebook op datum bly en kon dans totdat haar voete seer was.

Die Geledenhuys-gesin bedank in besonder vir Clutch Ferreira, Zenta Wessels en Gigi vir hul ondersteuning en almal wat van heinde en verre blomme gestuur, gebel, SMS’e gestuur en by hulle besoek afgelê het. Hulle het ook hul waardering uitgespreek teenoor die personeel van ER24 en die Ermelo Provinsiale Hospitaal.

’n Roudiens vir Elizma sal Donderdag om 11vm in die NG Ermelo-Oos-gemeente plaasvind.

Related Articles

Back to top button