Local newsNews

Bekende Ermeloër ná kort siekbed oorlede

Oom Pieter was alombemind en almal wat hom geken het, het hom as ’n ware heer met die mooiste maniere ervaar.

n Bekende gebore Ermeloër, mnr. Pieter Olivier (86), is Maandag 6 Januarie ná ’n kort siekbed in ’n Pretoriase hospitaal oorlede.

Oom Pieter is op 6 Maart 1927 gebore en het in 1946 aan die EHS gematrikuleer. Ná voltooiing van sy skoolopleiding het hy as klerk by ’n plaaslike bank gewerk waar hy sy toekomstige vrou, Lettie Steenkamp, ontmoet het. Hulle is in April 1951 getroud en twee seuns, Hein en Tommy, albei mediese dokters, is uit die huwelik gebore.

Die oorledene het ná sy bankloopbaan in Nu-Skotland in die distrik geboer voordat hy ’n sakeonderneming suksesvol in Swaziland bedryf het.

In 1975 het die egpaar Ermelo toe verhuis waar hy en sy vrou ook diep spore in die gemeenskap getrap het. Hulle het ’n bekende modewinkel gekoop en hulle as baanbrekers aan die modefront onderskei. Albei was ywerige tuiniers en het verskeie tuinboukompetisies met hulle pragtuin in Kleinstraat gewen.

Vanaf 2007 toe Lettie spesiale sorg nodig gehad het, was die egpaar inwoners van die SAVF-Huis.

Tot met haar dood op 27 Februarie 2008 het hy haar met die grootste deernis bygestaan.

Oom Pieter was alombemind en almal wat hom geken het, het hom as ’n ware heer met die mooiste maniere ervaar. Hy was gesteld op sy voorkoms en kon wat sy kleredrag betref, altyd deur die spreekwoordelike ring getrek word.

Hy word deur sy seuns, ses kleinkinders en twee agterkleinkinders oorleef. (CK)

Related Articles

Back to top button