Chrissie weer in mynbou-visier

Msobo Coal gaan voort met planne om ’n nuwe steenkoolmyn in die Chrissiesmeer-gebied te bou, volgens ’n artikel in “The Green Times”. Dié verwikkeling kom te midde van onsekerheid of minister van mynbou en minerale bronne Susan Shabangu wel mynbou-aktiwiteite in dié sensitiewe “mere-distrik” verbied het. Chrissiesmeer is ’n omgewing van natuurskoon en biodiversiteit met …

Msobo Coal gaan voort met planne om ’n nuwe steenkoolmyn in die Chrissiesmeer-gebied te bou, volgens ’n artikel in “The Green Times”.

Dié verwikkeling kom te midde van onsekerheid of minister van mynbou en minerale bronne Susan Shabangu wel mynbou-aktiwiteite in dié sensitiewe “mere-distrik” verbied het.

Chrissiesmeer is ’n omgewing van natuurskoon en biodiversiteit met ongeveer 270 waterpanne en die grootste binnelandse varswatermeer in Suid-Afrika.

As mynbou wel verbied is, beteken dit dat Msobo miljoene rand op studies vermors het, maar as die projek voortgaan, kan die maatskappy sterk weerstand van die omgewings- en toerismesektore te wagte wees.

Msobo Coal, ’n swartbemagtigings-maatskappy, het verlede jaar die Tselentis-koolmyn gekoop en verwag dat die beplande Harwar-oopgroefmyn die lewe van Tselentis sal verleng en 600 werksgeleenthede sal behou.

Min. Shabangu het in November verlede jaar in die Parlement haar 2011-voorneme bevestig om myn- en prospekteerregte in die Chrissiesmeer-gebied te verbied, maar die Sentrum vir Omgewingsregte se uitvoerende direkteur, Melissa Fourie, sê dié verbod het nog nie in die Staatskoerant verskyn nie. Daarsonder geld die verbod nie. Die sentrum het die minister reeds twee keer om duidelikheid daaroor gevra, maar nog geen antwoord ontvang nie.

Die woordvoerder vir Msobo Coal, James Duncan, het gesê hulle maatskappy verstaan dat die verbod slegs geld vir prospekteer- en mynregaansoeke wat voor Maart 2011 gedoen is.

Die prospekteerreg vir Harwar is voor die moratorium toegestaan, dus kan Msobo, volgens hom, vir ’n mynreg aansoek doen.

Koos Pretorius van die Federasie vir Volhoubare Omgewing sê die Mpumalanga Toerisme- en Parkeraad, met die ondersteuning van talle plaaslike grondeienaars, het ook aansoek gedoen dat die 62 000ha gebied as ’n beskermde gebied verklaar word.

Exit mobile version