GalleriesNews galleries

Tornado saai verwoesting

Huise van sommige van die plaaswerkers wat in hul beddens gelê en slaap het, is totaal verwoes.

Galery

Die verwoestende tornado wat verlede Dinsdagnag miljoene rande se skade in Tembisa op die Oos-Rand aangerig het, het ook sy spoor van verwoesting in dele van Delmas, Bethal en Ermelo gelaat.

Hoewel die krag van die tornado afgeneem het teen die tyd wat dit Ermelo Woensdag-oggend omstreeks 01:00 bereik het, is bome ontwortel, dakke afgewaai en verskeie huise en statte op plase is in die pad van die tornado vernietig wat slegs 6 km suid van Ermelo verbytrek het.

Op die plaas Rietspruit van mnr. Eben Kühn het dakplate wat van ‘n werker se huis afgeruk is sowat ‘n kilometer verder teen draadheinings langs die pad tussen Ermelo en Amersfoort te lande gekom.

Dik wattelbome in ‘n strook van 150 m is ontwortel en geknak. Telefoonpale is óf stomp afgebreek óf omgewaai.

Die plaas Uitkomst van mnr. Lood en me. Jolande de Jager het egter groter skade gely en huise van sommige van die plaaswerkers wat in hul beddens gelê en slaap het, is totaal verwoes.

Een van die werkers is met bed en al uit sy huis gewaai.

Geen ernstige beserings is aangemeld nie, maar ‘n ander heenkome moes inderhaas vir die werkers gevind word.

Die smal pad van verwoesting wat die tornado gesaai het, kan gesien word in ‘n ongestroopte mielieland op mnr. De Jager se plaas waar mielies in ‘n strook van sowat 150 m breed platgevee is, terwyl die res van die mielies staande gebly het.

 

Related Articles

Back to top button