Community galleriesGalleries

Tuinbouers leer die Queen ken

Megaboervrou en oud-Ermeloër Estie Badenhorst van Hluhluwe,was die gasspreker.

Ermelo Tuinbouklub het verlede week hul maandvergadering by Dolores se kerk gehou.

Megaboervrou en oud-Ermeloër Estie Badenhorst van Hluhluwe,was die gasspreker.

Leerlinge van Ermelo Christian School het die verrigtinge geopen met ‘n geestelike dans, waarna Elmarie Celliers’n kragtige boodskap oor Pinkster en gebed vir ons land gelewer het.

Estie het haar voorlegging begin deur ‘n getuienis te lewer waarna almal na die aflewering van Megaboere gekyk het om meer insig oor die Badenhorst-pynappelplaas en boerdery te kry.

Sy het in 1997 haar eerste pynappelresepteboek vrygestel, maar dit was eers ‘n paar jaar later toe sy haar 20ste EHS-reünie bygewoon het dat sy besef het sy is die enigste vrou daar wat nie ‘n beroep het nie. Sy was maar net ‘n boervrou.

Daar het sy besluit om iets te doen en met die leiding van die Here het sy begin met pynappelbyprodukte.

Onder die naam Mama Annanas het Estie eers begin met pynappelsmoor (“relish”), toe souse en spog vandag met ‘n hele reeks produkte.

Ná ‘n paar interessante feite oor pynappels het Estie die vroue meer vertel oor die voordele van die ensiem, bromelain, wat slegs in pynappels voorkom en unieke idees uitgeruil vir die gebruike van pynappels.

Interessante feite wat sy gedeel het, is dat daar twee variëteite pynappels is, die Queen (vars op winkelrakke) en die Cayenne (inlê en sap). Pynappels neem 16 tot 18 maande van plant tot pluk en ná die oes moet die grond vyf jaar rus. Die pynappelplant dra slegs een vrug in ‘n leeftyd, een planter plant 7 000 plante in agt ure, daar is 12 000 plante per ha, een ha lewer 60 tot 70 ton vrugte en per jaar plant hulle 150 ha pynappels aan en oes 9 750 ton.

Die vroue het ook die geleentheid gehad om Estie se pynappelprodukte te proe en die produkte sal voortaan by Tuiskoop te koop wees.

Almal het die oggend baie geniet en kyk nou met nuwe oë na die pynappel.
Hou die Hoëvelder dop vir meer inligting oor die Tuinbouklub se volgende vergadering wat in Julie plaasvind.

Related Articles

Back to top button