Gru-ongeluk eis vier

Een van die ernstig beseerdes is in 'n bedenklike toestand per helikopter na die Milpark Hospitaal in Johannesburg oorgeplaas. Hy is na wat verneem word twee weke gelede getroud.

Vier mense is dood en nog sewe beseer, van wie ses ernstig, in ‘n gru-botsing naby Warburton op die pad tussen Carolina en Amsterdam.

Die ongeluk het Maandagoggend omstreeks 09:00 gebeur toe ‘n minibus en ‘n bakkie reg van voor gebots het.

Die beseerdes is op die toneel deur nooddienspersoneel van Life Care Response op Ermelo en die Provinsiale Ambulansdienste op Carolina gestabiliseer en na die Carolina Provinsiale Hospitaal vervoer waar hulle vir hul beserings behandel is.

Vier pasiënte is met beserings en veelvuldige frakture na die Little Company of Mary Hospitaal in Pretoria oorgeplaas.

Nog ‘n beseerde is ná behandeling in die Carolina Hospitaal ontslaan.

Die bestuurder van die bakkie, mnr. E.S. Gama, is in die Carolina Provinsiale Hospitaal opgeneem en sal moontlik later na die Mid-Med Kliniek op Middelburg oorgeplaas word..

Die 10 insittendes van die minibus is almal werknemers van die Premier Foods-groep en was na wat verneem word op pad na Swaziland toe die ongeluk gebeur het.

Die polisie op Chrissiesmeer het die name van die oorledenes vrygestel. Hulle was mnr. L. Mogodima, mnr. T. Nel, mnr. Mulder Pretorius en mnr. J.D. du Plessis. Die name van die ander beseerdes was nie teen druktyd beskikbaar nie.

Die polisie ondersoek die oorsaak van die ongeluk.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Exit mobile version