Local newsNews

In tyd van vrees oor koronavirus ontmoet Moses Mokoena van Ermelo vir Jesus

Net daar en dan het hulle gekniel en Moses het vir Jesus aangeneem.

Met koronavirus op almal se lippe en met miljoene mense oor die wêreld wat met angs koerantopskrifte lees, kom daar vanuit die Ermelo-gemeenskap ’n storie van hoop.

Mnr. Moses Mokoena het op 25 Maart die Evangeliese Gereformeerde Kerk Ermelo binnegestap en gevra vir één ding, en één ding alleen, ’n Bybel.

Sy ontmoetingswoorde aan me. Nolene du Preez, predikantsvrou, was: “Ma’am, please I want a Bible, an isiZulu Bible ma’am, please.”

Sonder om te huiwer het sy omgedraai en is amper van stryk gebring deur die dringendheid van sy versoek.

Sy het aan hom gesê om te wag en inderhaas geskarrel om te kyk of sy ’n Bybel het.

“Ek het in die konsistorie gaan kyk, wetend dat ná ons Bybel-versamelingsprojek, daar glad nie eers meer Engelse Bybels was nie, wat nog isiZulu-vertalings.”

Mnr. Moses Mokoena met sy nuwe Bybel. Foto: Evangeliese Gereformeerde Kerk Facebookblad

“Nogtans het ek gegaan en bid soos ek elke Bybel omkeer, en sommer hardop het ek vir die Here gevra, asseblief, Here, net een verdwaalde isiZulu-Bybel vir Moses.”

Dis toe volgens haar dat die Here haar aan Joseph De Witt, Evangelis en lidmaat van die Evangeliese Gereformeerde Kerk herinner het.

Sy het hom gebel en sonder om te aarsel het hy haar laat weet dat hy kon help.

Hy het na wat verneem word ’n splinternuwe isiZulu-Bybel oorgehad na ’n Bybelversamelingsveldtog.

Mnr. De Witt het vertel dat hy die Bybel op die kas neergesit het en geweet het dat die Here die regte persoon na hom sou stuur om dit af te haal.

Kort-voor-lank was mnr. De Witt en sy eggenoot me. Alta De Witt by die kerkgronde.

Hy het aan Moses gevra: “Are you afraid?” waarop mnr. Mokoena geantwoord het: “I am very afraid of the coronavirus and of God, I want to turn my life around.”

Net daar en dan het hulle gekniel en Moses het vir Jesus aangeneem.

Mnr. Joseph de Witt kniel en bid saam met mnr. Moses Mokoena nadat hy aan hom ’n isiZulu-Bybel geskenk het. Foto: Evangeliese Gereformeerde Kerk Facebookblad

“Jesus sê Hy het gekom vir die ganser aarde, vir elke verlore siel,” het me. du Preez agterna gesê.

“Hy het almal se sondeskuld op Hom geneem en vandag ook Moses s’n.

“Die tyd waarin ons leef is duister en onseker, maar dit is juis in hierdie tyd dat die lig van Jesus op sy helderste gesien kan word.

“Mag hierdie skrik wat op ons gejaag is, meer mense dryf na Jesus om in Hom hoop en vrede te vind.”

Na Moses se ontmoeting,  het hy met ’n sak vol kruideniersware in  die een hand en in die ander ’n isiZulu-Bybel met sý naam in asook die boodskap: “Moses Mokoena is a child of God. 25 March 2020,” weggestap.

 

Related Articles

Back to top button