BlogsOpinion

’n ‘Kunstige’ oordeel…

’n Bybel wat gebruik word om vuur te maak in die winter, het meer waarde vir die mens as ’n Bybel wat net op ’n kas lê en stof opgaar.

Die kunswerke van ’n leerder, wat byna ’n herrie op sosiale media ontketen het, is nou al deur meeste mense gesien.

Ek sit Dinsdag by ons Secunda-kantoor terwyl ek die koerant uitlê en luister hoe personeel met gemengde gevoelens dié leerder se werke verdedig en óf oordeel.

Ek sukkel egter om standpunt in te neem, ek is ’n Christen, en daarom moet ek sekerlik ook hierdeur tot in my kern gegriefd voel, maar tóg voel dit vir my of ek net nie genoeg rondom die kwessie weet om werklik iets daaroor te sê nie.

Daarom gaan vergewis ek myself toe met die feite en lees hordes inskrywings om gebalanseerd my eie geloofsoortuigings te kan bepaal.

Ek bedink die saak en hoe ek sou optree sou ek een aand in my kind se kamer instap en met dié werke begroet word.

My aanvanklike optrede in dié verband kan maklik dikteer word deur die samestelling van my interne waardestelsels wat met geloofsopvoeding gepaardgaan.

Ek betwyfel dat my eerste reaksie sou wees om die belt te gryp en kunstige werkies van my eie op my kind se bas te los, nie dat ek meer mag nie… maar, ek sou eerstens probeer vasstel waarmee hy hom bemoei het.

Nadat ek met hom openlik kon praat en sy interpretasie daarvan oorweeg, kan ek dus ’n ingeligte besluit neem oor hoe ek daaroor voel en wil optree.

Sou ek die kwessie impulsief hanteer, loop ek die risiko om die deur toe te maak op alle toekomstige oop-gesprekke.

Sê ek dan nou dat ek hierdeur nie my kind sou straf nie?

Wat ek sê is, ons neig partymaal om te gou op te tree en in die proses doen ons meer skade as goed.

As deel van die spreekwoordelike liggaam van Jesus, wil ek glo dat wanneer een ledemaat swak is, die ander sterk moet wees om ’n balans te handhaaf.

Maar so gereeld wil dit vir my voorkom of die Christelike-beweging se grootste vyand, nie noodwendig daai mannetjie met die horings is nie, maar Christene hulself.

Wanneer ’n kontroversiële kwessie aan ons deur klop, begin ons grootste beproewing en vanuit die staanspoor misluk ons keer op keer.

Ons is lief daarvoor om te sê ons is Christene, maar ons is nie so lief daarvoor om volgens die doktrines te leef en op te tree nie.

Oordeel is instinktief en genadeloos en die kind vir wie ons in dié tyd moet liefhê en lei – sou ons glo dat dit die gepaste geloofsoptrede en ons Christelike verantwoordelikheid is, is nie net verlore nie, maar ook gewalg om met ’n geloof te assosieer waar liefde deur oordeel vervang word.

Ek ag enige iemand gelukkig wat binne die milieu van ’n huishouding kan grootword waar liefde en nie oordeel nie, aan die orde van die dag is, want uit liefde spruit die mooiste blomme.

Ongeag die artistieke betekenis wat die kunstenaar wou uitbeeld, wil ek nie my God as hanswors afgemaak hê nie, as mede-Christen wil ek nie die geskrifte rondom ’n horingagtige figuur sien nie, maar as ’n mede-Christen weet ek dat my eie lewe nie die toonbeeld is vir Christenskap nie.

’n Bybel wat gebruik word om vuur te maak in die winter, het meer waarde vir die mens as ’n Bybel wat net op ’n kas lê en stof opgaar.

Maar so gereeld wil ons met ons Bybels wat selde oop is, pak slae gee en hapapalala skree as ons iemand anders sien oortree.

Voordat ons oordeel, het ons nodig om introspeksie te gaan doen – net oor jy nie ’n bokkop of vreemde uitbeelding uitstal nie, beteken geensins dat jy die vlagdraer vir Christenskap is nie.

Jou vraag aan my, moet jy dan net stilsit en toekyk?

Nee, as jy voel jy móét optree, tree op binne jou Christelike raamwerk – in liefde, nie oordeel nie.

Related Articles

Back to top button