Editor's note

Eerstes en laastes

Die blaaskans is verby en almal by die Hoëvelder is weer hard aan die werk. 2013 was ’n jaar van eerstes en laastes vir die koerant en ook in my persoonlike lewe. Die Hoëvelder het deur die loop van die jaar ook ’n digitale baadjie aangetrek en ons Look Local- blad, Facebook-blad en langverwagte webtuiste …

Die blaaskans is verby en almal by die Hoëvelder is weer hard aan die werk.

2013 was ’n jaar van eerstes en laastes vir die koerant en ook in my persoonlike lewe.

Die Hoëvelder het deur die loop van die jaar ook ’n digitale baadjie aangetrek en ons Look Local- blad, Facebook-blad en langverwagte webtuiste kry baie aftrek.

’n Nuwe bemarker en twee joernaliste het by die span aangesluit en is goed gevestig.

Na 110 jaar word die Hoëvelder nog deur duisende gelees en ons bedank weereens ons lojale lesers en kliënte vir hul volgehoue ondersteuning.

My suster is in Junie skielik oorlede en ek moes in Desember vir die eerste keer in die Kaap gaan kuier en sy was nie daar om my te verwelkom of by die hekkie af te sien na ’n lekker kuier saam nie.

Die vier sussies wat altyd saam langs die see by Bloubergstrand gaan stap het, was nou drie en die gemis is groot.

Ek het ook vir die eerste keer by my dogter as ’n getroude vrou in haar eie huis gekuier en oorgeslaap.

My seun het ook intussen nesgeskop en skielik was daar nou twee ekstra oornaghuise in die Kaap.Dit was lekker om terug te sit en die gas te wees en bietjie bedien en bederf te word.

Na 23 jaar aaneenlopend van kinders op skool hê, het ’n laaste ook aangebreek toe Kleinsus haar matriekeindeksamen afgelê het.

Vanoggend het ons die goeie nuus gekry dat sy geslaag het en skielik gaan ons lewens nie meer deur die skoolklok gereguleer word nie.

Die einde van nog ’n era in my lewe het aangebreek.

Intussen wag die eerste uitgawe van die Hoëvelder om die lig te sien en sluit ek af deur namens almal hier aan elke leser en kliënt net seëninge en voorspoed vir 2014 toe te wens.

Mag die jaar wat voorlê gevul wees met eerstes en laastes wat net vreugde vir elkeen sal bring.

Klop gerus hier by ons aan en wees verseker dat almal hier gereed staan om die beste diens te lewer, by te dra tot die sukses van jou onderneming en ’n betroubare kennis-

gewingbord vir die

gemeenskap te

wees.

Related Articles

Back to top button