Editor's choiceLocal newsNews

Gaan Ermeloërs skou of koop?

Ermelo kry dalk nuwe winkelsentrum

Gerugte doen al lank die ronde dat inwoners van Ermelo en omgewing nie veel langer die jaarlikse Hoëveld Landboufees op die terrein in Voortrekkerstraat waar dit baie jare reeds plaasvind, sal kan bywoon nie.

Dié moontlikheid het nuwe stukrag gekry met kennisgewings wat onlangs aan die omheining van die skouterrein aangebring is.

Die kennisgewings lig inwoners in dat die Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit ’n aansoek ontvang het om op die terrein ’n “dorp … te stig”.

Volgens die kennisgewings sal die “dorp” as “Ermelo Uitbreiding 46” bekend wees en sal dit uit twee erwe bestaan. Een van die kennisgewings lui dat die projek die vestiging van ’n winkelsentrum sowel as ’n dorpgebied behels.

Die winkel- en handelsentrum sal onder andere ’n supermark, plek van vermaak, finansiële instelling, fiksheidsentrum, karwas, tuinsentrum, oogkundige, poskantoor en deurry-restaurant huisves.

Meer besonderhede oor die projek is van 3 Januarie vir ’n tydperk van 28 dae tydens gewone kantoorure by die kantoor van die Munisipale Bestuurder op die eerste vloer van die Burgersentrum op die hoek van Taute- en Kerkstraat beskikbaar.

Besware teen en vertoë ten opsigte van die projek moet in dieselfde tydperk skriftelik en in tweevoud by die Munisipale Bestuurder ingedien word.

’n Publieke deelnamevergadering oor die aangeleentheid sal op 4 Februarie om 6nm op die skouterrein plaasvind.

Die voorsitter van die Hoëveld Landboufees, mnr. Willie Jacobsz, het die versekering gegee dat vanjaar se skou wel op die terrein sal plaasvind en dat daar binnekort weer met die betrokke partye vergader sal word om die verwikkelinge te bespreek.

Related Articles

Back to top button