Local newsNews

Hervormde gemeentes op Ermelo beloof groot pret tydens Tolderia pretdag

Die organiseerder is baie opgewonde oor die Tolderia Bergfiets-uitdaging wat aangbied gaan word. Die wedren is reeds by die Cycling SA geregistreer.

Die tweejaarlikse Tolderia-pretdag wat deur die twee Hervormde gemeentes op Ermelo aangebied word, vind Saterdag, 2 Februarie plaas.

Die aktiwiteite wat tydens die dag aangebied word, is van so aard dat oud en jonk die dag kan geniet. Die organiseerder is opgewonde oor die Tolderia Bergfiets-uitdaging wat aangebied gaan word. Die wedren is reeds by Cycling SA geregistreer.

Fietsryers van oral word verwag om aan die wedren deel te neem.

‘n 11km-pret-wedloop gaan ook plaasvind en deelnemers kan kies tussen ‘n 25km, 40km of ‘n 73km-wedren. Die roetes word uitgemerk volgens die regte voorskrifte en voorsiening word gemaak vir al die klasse, van so jonk as agt jaar en selfs ouer as 60 jaar.

Registrasies vir die wedren kan gemaak word by Cycling SA.

‘n Ander nuweling by die pretdag is die swartbaars-boothengelkompetisie wat vanjaar die oudergewoonte oewerhengelkompetisie vervang.

Die vyf grootste visse van elke boot sal gesamentlik geweeg word om in aanmerking te kom vir die pryse.

Bekende personeel van SA Baars sal tydens die kompetisie hulp verleen met die inweeg.

Die jaarlikse swemkompetisie onder die leiding van me. Annalise Prinsloo, is ook weer op die program.

Die 4×4-manne sal weer hulle gebruiklike ritte kan onderneem, terwyl daar vlotritte, bootritte, wildbesigtigingsritte en pypkarritte aangebied word.

Vir die waaghalsiges is daar die bande wat agter die bote gesleep word en ‘n nuwe glybaan beskikbaar.

Om die kinders besig te hou, is daar roeibote en trapbootjies om te geniet. Staanplekke is te huur vir gesinne wat die naweek wil kamp.

Die organiseerders onderhandel tans om uitstallings van die motorhandelaars, veteran-motorklub, radio beheerde-vliegtuigklub en motorfietsklub moontlik te maak.

Vroegoggend kan die feesgangers ontbyt geniet, terwyl die kosstalletjies deur die loop van die dag heerlike disse sal voorsien.

Die Flying Cows Pitts Special akrobatiese-vliegspan sal die dag ‘n vertoning lewer wat nie gemis moet word nie.

Helikopter-ritte sal beskikbaar wees vir die feesgangers wat die pretdag uit die lug wil aanskou.

Vir enige navrae, skakel mnr. André van Rooyen by 082 417 0174, mnr. Piet van Zyl by 082 212 7436 of mnr. Johan Bezuidenhout by 084 514 1092.

Related Articles

Back to top button