Local newsNews

’n Lewe met “Multiple Sclerosis” (MS) kry die vroue van Ermelo nie onder nie

Saam vertel die twee vroue dat die ergste simptoom van MS is, om nie te weet wat vir jou voorlê nie.

Die Hoëvelder het onlangs by me. Chantal Boonstra en me. Veronica Wahlstrand gaan inloer en gesels oor hoe die lewe lyk met veelvuldige sklerose (MS).

Met die intrapslag is die realiteit van die siekte maar vaag, omdat nie een van die twee vroue enigsins siek lyk nie.

Me. Wahlstrand het vertel dat dit grotendeels die rede is hoekom ander nie verstaan hoe MS ‘n mens se lewe verander nie.

MS is ‘n onvoorspelbare, dikwels afwykende siekte van die sentrale senuweestelsel wat die vloei van inligting binne die brein, en tussen die brein en liggaam, ontwrig.

Me. Boonstra het vertel dat die vordering, erns en spesifieke simptome van MS in enige persoon nog nie voorspel kan word nie en dat dit van persoon tot persoon verskil.

Sy is 14 jaar gelede met MS gediagnoseer en omdat daar nie baie navorsing of inligting beskikbaar was nie, het sy haarself geleer hoe om daarmee saam te leef.

Sy is kort na die geboorte van haar jongste dogter, gediagnoseer.

“Ek het baie boeke wat ek oor die jare versamel het om meer inligting oor MS bymekaar te maak en die lewe vir myself vergemaklik, deur te weet wat mag ek eet en wat nie.” het me. Boonstra gesê.

Sy het sowat twee jaar gelede haar werk gestaak en is nou voltyds by die huis, waar dit vir haar makliker is om rond te beweeg met die loopring.

“Om ver afstande te loop, is vir my byna onmoontlik en ek kan nie net vinnig in die kar spring om dorp toe te gaan nie.” het sy bygevoeg.

Haar simptome het sy vertel, hang ook af van die weer, omdat die hitte en koue ‘n invloed het op MS-leiers.

Me. Wahlstrand is vroeër vanjaar gediagnoseer nadat sy bruin vlekke in haar sig opgemerk het.

“Ek ken Chantal al ‘n ruk lank, en is dankbaar vir haar wat my altyd ondersteun en bystaan met al die nuwe dinge wat ek daagliks ervaar.” het me. Wahlstrand gesê.

Sy het sowat ‘n week gelede ook in haar ander oog se sig die bruin vlekke opgemerk en is dadelik deur haar dokter aangesê om vir behandeling te gaan, waar sy vir vier dae 1 000mg kortisoon-drips ontvang het.

Om te aanvaar en te erken dat sy MS het, het eers onlangs vir haar ‘n realiteit geword omdat sy dit probeer ontken het en geglo het dit sal vanself regkom.

“Ek het besef dat ek dit moet aanvaar en aanpas om die lewe vir myself makliker te maak.” het me. Wahlstrand bygevoeg.

Sy het bygevoeg dat sy sukkel met moegheid en kan agterkom dat haar geheue haar soms in die steek laat.

Saam vertel die twee vroue dat die ergste simptoom van MS is, om nie te weet wat vir jou voorlê nie.

Vir sommige mense is die effekte van die siekte vinniger sigbaar en by ander kan jare verloop.

Me. Boonstra is tans by ‘n studie betrokke wat toon dat haar toestand die afgelope vier jaar nie vererger het nie.

Hulle is dankbaar vir die ondersteuning wat hulle van hulle vriende en familie ontvang en glo om positief te lewe hulle daaglikse take vergemaklik.

“MS kan volgens mediese navorsing nie genees word nie, maar met God is alles moontlik en mens hou aan glo en vertrou vir genesing.” het hulle afgesluit.

Indien enige iemand wat met MS gediagnoseer is en ondersteuning benodig kan hulle me. Veronica Wahlstrand kontak by 083 346 4763 of me. Chantal Boonstra by 072 460 1654.

Me. Chantal Boonstra is 14 jaar gelede met “Multiple sclerosis” (MS) gediagnoseer en me. Veronica Wahlstrand is in Julie vanjaar gediagnoseer, maar pak die lewe elke dag met ’n positiewe gesindheid aan.

Related Articles

Back to top button