GeneralLocal newsNews

Slaggate vererger by die dag

Slaggate raak by die dag dieper en sonder die nodige instandhouding, is skade aan voertuie onvermydelik.

Met die reënseisoen wat hier is, het plaaslike inwoners hul bekommernis oor die toestand van die dorp se paaie onder die Hoëvelder se aandag te bring.

Sommige inwoners is van mening dat die talle vragmotors wat van die dorp se paaie gebruik maak, asook die swak onderhoud wat op die paaie gedoen word, die hoofredes is vir die slaggate wat oral kop uitsteek.

Die toestand waarin die paaie tans is, asook die agteruitgang wat gepaard gaan tydens die reënseisoen, hou ’n groot gevaar vir motoriste in.

In Oosstraat waar die pad deur vragmotorbestuurders aangedurf word en motoriste eerder langs die pad ry en ’n nuwe pad uittrap, skep dit ’n groter gevaar vir voetgangers en fietsryers in die omgewing.

’n Inwoner van Oosstraat het al menigte kere gekla oor die vragmotors wat die skouers van haar ingang vernietig en op ’n stadium die gras voor hulle huis uitgery het.

Nadat die pad deur plaaslike ondernemings op Ermelo met grond opgevul is, het dit weer die inwoners dag in en dag uit onder die stof gelaat.

“Ons vreet stof vir 12 maande lank en nie net in die winter nie. Ons bid vir reën elke dag, want dis al wanneer ons normaal kan leef sonder die stofwolk oor ons koppe.” het die inwoner in ’n vorige onderhoud gesê.

Die inwoners het noodgewonge hul buitemure verhoog in ’n poging om die stof te keer en ook later op eie onkoste die sypaadjie opgevul en afgebaken sodat vragmotors nie die pad verder kan beskadig nie.

“Die herstel van ons dorp se paaie en die kragbokse wat permanent oopstaan, moet die munisipaliteit se hoogste aandag geniet.” het ’n inwoner aan die Hoëvelder gesê.

Verskeie ander strate in die woongebiede is ’n oorlas vir inwoners.

Slaggate raak by die dag dieper en sonder die nodige instandhouding, is skade aan voertuie onvermydelik.

In Brinkstraat sien motoriste nie kans om op die pad te ry nie en maak dan van die parkeergebied wat langs die pad gebou is, gebruik.

Related Articles

Back to top button