Local newsNews

Ontmoet mnr. André van Rooyen, die man agter die Ermelo Lugskou

Om ’n lugskou te reël is volgens André nie ’n maklike taak en iets wat jy nie allleen kan doen nie. Hy sê dat hy dit nie sonder sy span sou kon doen nie.

Daar heers groot opgewondenheid op Ermelo oor Saterdag se lugskou.

Mnr. André van Rooyen reël sedert 1993 lugskoue op dié dorp en die Hoëvelder het hom beter gaan leer ken.

Hy is op Lothair gebore, het sy laerskooljare daar deurgebring en aan Hoërskool Ermelo gematrikuleer.

Hy was van kleins af versot op waterski en speel vandag graag gholf as die geleentheid hom voordoen.

Ná skool is hy Lugmag toe op Valhalla en het deel van sy diensplig as “handlanger” op die Mirages op Waterkloof gedoen.

Mnr. Van Rooyen was nog altyd lief vir vliegtuie en vlieg en het daarvan gedroom om eendag sy eie vliegtuig te besit.

Nadat hy sy militiêre opleiding voltooi het, het hy in 1976 sy BSC-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf en tussendeur sy privaat vlieglisensie verwerf.

Mnr. Van Rooyen is daarna as ingenieur by Duba-kragstasie aangestel.

Hy was daarna by die bou van die spoorlyn vanaf Swakopmund tot Walvisbaai betrokke.

Dié projek het ’n jaar en ’n half geduur.

Hy is daarna na Malawië toe waar hy die pad tussen Kasunga en Gerda gebou het.

Terug in Johannesburg het mnr. Van Rooyen vir ’n jaar bekusting vir brûe ontwerp. Hy het ook baie brûe vir Majuba gebou en was ook by die bou van die groot brug oor die spoorlyn in Durban betrokke.

Lees ook: Ermelo Lugskou laat die koppe draai met besonderse vertonings

In 1981 het hy teruggekeer na Ermelo en was kontrakbestuurder op die projek om die spoorlyn na Richardsbaai te verdubbel.

Intussen het hy self begin tender en die tender gekry om die spoorlyn tussen Vryheid en Ulundi te bou.

Mnr. Van Rooyen is vir dié projek beloon met die Basil Read goue medalje vir ingenieursprestasies.

In 1983 is hy met Mariaan getroud. Hulle het ’n dogter wat in Viëtnam skoolhou en ’n seun wat in Pretoria in die IT-bedryf werk.

Sy privaat vlieglisensie het verval omdat hy nie genoeg gevlieg het nie en in 1984 het hy dit hernieu en sy eie vliegtuig gekoop.

Dit het sy lewe in die konstruksiebedryf vergemaklik omdat hy tydens projekte van die een dorp na die ander kon vlieg en sodoende baie tyd spaar.

As direkteur van Basil Read was hy op Ermelo gesetel, maar het ’n wye gebied bedien. Hy het paaie, brûe en damme gebou en baie werk vir Sasol gedoen.

Toe sy pa in 1989 dood is, het mnr. Van Rooyen besluit om die konstruksiebedryf vaarwel toe te roep.

Hy het hom op bome toegespits en het ’n saagmeule saam met Sappi gebou en ontginning tusssen die berge gedoen.

Omstandighede het hom egter genoodsaak om dié bedryf te staak en hy het besluit om hom toe te spits op sy plaas, Tolderia, uit op die pad na Lothair.

Hy het nooit met lewende hawe geboer nie en hoewel daar baie wild op sy plaas is, skiet hy nie self nie.

Hy is baie lief vir diere en hy en sy vrou het Alpacas aangeskaf wat in ’n kampie op die plaas wei.

Hulle gaan span ook so gereeld as moontlik in die Kruger Wildtuin uit.

Hy hou ook van nuwe dinge en plekke ontdek en hy en sy boesemvriend van 50 jaar, George Jacobsz, en sy vrou het Suidelike Afrika platgevlieg en baie mooi plekke in verskeie land besoek.

Hy het ’n passie vir bou en ontwikkel en het die naweekhuis op Tolderia opgradeer, vier chalets en ’n swembad gebou en die plaas ontwikkel tot ’n gewilde vakansieoord.

Daar trou ook gereeld paartjies op die plaas.

Pret-dae vir die kerk vind gereeld daar plaas. Die jaarlikse Mieliepop Fees het ook al ’n instelling geword.

André stel ook baie belang in die politiek en was op ’n stadium Voorsiter van die NP in Ermelo en lid van die Uitvoerende Komitee van Ermelo Stadsraad.

Hy het in 1997 by die Demokratiese Alliansie aangesluit en ook as Voorsitter gedien.

Hy het ook spottenderwys gesê dat hy die langsdiendende diaken in die Hervormde Gemeente-Suid is.

In 1993 was hy betrokke by die reël van die eerste van ses lugskoue op Ermelo.

Hy vertel met ’n vonkel in die oog dat die Hoëvelder destyds op dié skou Mej. Vleuels Skoonheidskompetisie gereël het, maar ’n lang en ingewikkelde beoordelingsvorm opgestel het. Hy en sy vriend Piet Celliers moes die punte optel en verwerk.

Hulle het die vorms een kyk gekyk gegee, die meisies gekyk en sommer op die daad besluit wie is die drie mooistes. Gelukkig het hulle saamgestem en Mej. Vleuels is aangewys.

Die beoordelaars se beoordeling was alles verniet.

Om ’n lugskou te reël is volgens André nie ’n maklike taak en iets wat jy nie allleen kan doen nie. Hy sê dat hy dit nie sonder sy span sou kon doen nie.

Borge is jou eerste prioriteit en dan is die logostieke en wetlike aspekte verbonde aan ’n lugskou baie streng en veeleisend.

Onderhandelinge met vlieëniers en instansies soos die Lugmag neem ook baie tyd en verg oorredingsvermoë.

Hy probeer altyd ’n balans tussen solo en groepvertonings handhaaf en dit is vir hom belangrik dat daar aaneenlopend aktiwteit in die lug moet wees.

Die opstel van die program verg ook fyn beplanning en hy roep die hulp van Scullie Levien, ’n kommersiële vlieënier daarvoor in.

Die program moet soos die dag vorder opbou totdat dit in die aand met ’n hoogtepunt eindig.

Teen die tyd dat die Hoëvelder met dié berig in op straat verskyn, is Ermelo se sewende lugskou verby en kan André van Rooyen vir ’n rukkie terugsit voor die beplanning van die volgende lugskou begin.

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Related Articles

Back to top button