Local newsNews

Miané van der Merwe benodig ’n helpende hand

Miané van der Merwe se gesin het dringend hulp nodig om vir haar operasie te betaal.

Miané van der Merwe se gesin het dringend hulp nodig om vir haar linkerhand se operasie, wat sy op 9 April moet ondergaan, te betaal.

Sy is op 8 Augustus verlede jaar gebore met horrelvoetjies (“club feet”) en haar linkerhandjie het nie ten volle in die baarmoeder ontwikkel nie.

Albei toestande is onverklaarbaar en was nie sigbaar op enige van die sonars wat gedurende die swangerskap gedoen is nie.

“Dit was ’n groot skok en ons was glad nie voorbereid op dit wat vir ons en ons klein pop gewag het nie,” het me. Elsie Engelbrecht, Miané se ma, vertel.

“Ons was teleurgesteld, maar terselfdertyd ook dankbaar dat daar geen ander probleem was nie.”

Na geboorte is Miané deur haar pediater, dr. Diederik Johannes Bisset van Middelburg, verwys na ’n Ortopediese Chirurg, dr. Stephan Colyn by Wilgers Hospitaal in Pretoria.

Lees ook: Dewald Mareé op pad na herstel

Sy moes vanaf tweejarige ouderdom gaan vir voetbehandeling, waar haar voetjies weekliks gemanipuleer en stadig teruggedraai is in die regte posisie, waarna hulle dan in gips geplaas is.

Die proses is weekliks gedoen totdat drie maande se behandeling voltooi was.

Miané het op 6 November verlede jaar ’n “Achilles Tendon”-operasie ondergaan waar hulle die sening bo haar hakseen geknip en gerek het sodat haar voete nou normaal kan buig en haar hak plat kon wees.

Haar voete het volkome herstel en haar dokter is baie tevrede met haar vordering.

Sy moet wel spesiale skoene dra tot op die ouderdom van drie jaar om enige terugslag te voorkom.

“Die dokter het haar as ’n sterk baba beskryf omdat sy een van sy eerste pasiënte is wat se voete so gou herstel het.”

Tydens ’n opvolgbesoek op 13 Maart het die dokter die ouerpaar in kennis gestel dat Miané so gou as moontlik ’n “sindaktelie lsloating” moet ondergaan om haar indeks- en pinkievinger te skei van die res van haar vingers sodat die vingers verder kan groei.

Volgens haar dokter, is die operasie noodsaaklik omdat die hand nou in ’n baie belangrike groeiproses is en al die vingers te styf teen mekaar vas is.

Hy het ook aan die ouerpaar verduidelik dat sy vinniger sal aanpas indien die operasie nou, eerder as op ’n latere stadium, gedoen word.

Miané se ma het vertel dat sy reeds op ’n jong ouderdom geleer het om die hand te gebruik en haar laat nie onderkry deur die gebrek nie.

Miané se ouers behoort wel aan ’n mediese fonds en het reeds vroeg in Januarie in verbinding met hulle getree om hulle voor te berei vir enige ekstra uitgawes en bybetalings.

Ten tye van die oproepe na die mediese fond is daar voorlopig gesê dat daar ’n bybetaling sal wees, maar dat meeste van die koste gedek gaan word.

Me. Engelbrecht het op 15 Maart bevestiging ontvang dat slegs ortopediese prosedures, wat lewensgevaarlik is, gedek word.

Operasiekoste beloop sowat R70 000 en dit is slegs een van drie operasie wat sy binne die volgende drie maande moet ondergaan.

Miané moet op Maandag, 16 April, ’n week na haar eerste operasie, terug teater toe om haar hand oop en ook skoon te maak.

“Die dokter het verduidelik dat dié prosedure te sensitief is om te doen terwyl sy wakker is.”

Miané moet daarna vir ’n derde operasie gaan om haar middel- en wysvinger van mekaar te skei.

Me. Engelbrecht beskryf haar dogter as ’n energieke kind wat altyd glimlag, selfs op die dae wat sy nie lekker voel nie.

Na die nuus wat die gesin ontvang het, bly hulle positief en glo dat die Here sal voorsien.

Enigiemand wat hulp kan bied, kan me. Elsie Engelbrecht by 079 329 7110 skakel.

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Related Articles

Back to top button