Local newsNews

Ermelo Munisipale digitale era byna hier

Volgens mnr. Nkosi leef ons in 'n digitale era en beplan die munisipaliteit om in die toekoms e-dienste aan die gemeenskap te bied.

Die Hoëvelder ontvang reeds ‘n geruime tyd klagtes van die publiek wat nie betyds of soms glad nie hul rekeninge van die munisipaliteit ontvang nie.

Baie van die verbruikers beweer dat die telefoon eenvoudig nie geantwoord word as hulle bel om hul balans uit te vind nie, terwyl ander kla dat hulle eenvoudig nie die tyd het om ure lank in ‘n ry te staan om uit te vind wat hulle skuld nie.

In antwoord op ‘n skrywe aan die munisipaliteit oor die rede waarom rekeninge nie betyds by die verbruikers uitkom nie, het hulle gemeent die fout lê by die poskantoor.

Volgens die munisipale woordvoerder mnr. Mandla Zwane, word die rekeninge reeds in die eerste week van elke maand aan die poskantoor gestuur.

‘n Betroubare bron by die Ermelo-poskantoor het die Hoëvelder meegedeel dat hulle nie die sondaar is nie. Volgens die bron moet die munisipaliteit vir die diens betaal voordat die rekeninge gepos word en meeste van die tyd word die betalings laat gemaak wat dan veroorsaak dat die rekeninge dan eers gepos en laat ontvang word.

Na bewering het die munisipaliteit eers Maandag 14 Augustus betaal vir die posstukke om uitgestuur te word.

Teen druktyd Dinsdagmiddag is nog geen terugvoer van die munisipaliteit rakende die bewering ontvang nie.

Die munisipaliteit het ‘n voorstel om digitale rekeninge uit te stuur met ope hande verwelkom.

Volgens mnr. Zwane is dit reeds in die burgemeester, mnr. S.M. Nkosi, se beplanning om onnodige drukkers- en poskoste te vermy deur middel van digitale rekeninge.

Volgens mnr. Nkosi leef ons in ‘n digitale era en beplan die munisipaliteit om in die toekoms e-dienste aan die gemeenskap te bied.

Mnr. Nkosi beplan ook dat die munisipale webblad opgedateer en onderhou word sodat inwoners deurgaans ingelig kan bly oor projekte en ander ontwikkelings in die munisipaliteit.

Volgens mnr. Zwane kos dit die munisipaliteit maandeliks R109 348,20 om die 28 308 rekeninge teen R3,90 elk te pos. Die drukkoste beloop ongeveer R15 per rekening, maar dié bedrag word merendeels deur adverteerders gedek.

Die munisipaliteit versoek reeds inwoners om hul besonderhede, insluitend e-posadresse, by die kantore van die munisipaliteit op te dateer sodat verbruikers per e-pos in kennis gestel van hul uitstaande rekeninge kan word.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Related Articles

Back to top button