Local newsNews

Blink toekoms wag op jong wennersjef

"Vandat ek 'n lepel kon vashou, het ek saam met my ma koek gebak."

Johan Fourie, gr. 12-leerder van Hoërskool Ermelo, is aangewys as die wenner van die Capital Hotelskool se jongsjef-kompetisie.

Die kook-finaal het van 10 tot 17 Julie by die Malanga Hotel in Waterval-Onder plaasgevind.

Johan was een van 11 finaliste wat moes kook vir die gesogte prys van ‘n jaarlange studiebeurs en verblyf aan die Capital Hotelskool.

Hy vertel dat hy eers nie daaraan gedink het om in te skryf nie en dat die hoof-beoordelaar by die vroeëre Skole wat Kook-kompetisie en eienaar van Capital Hotelskool, me. Ronél Bezuidenhout, hom tydens dié kompetisie opgemerk en oorreed het om in te skryf.

Die finaliste het twee weke voor die tyd spyskaarte ontvang van twee moontlike hoofdisse, eland- of rooibokfilet, en Crêpe Normande met geflambeerde appels en soet lemoenroom vir nagereg.

Daar aangekom, is elke finalis ‘n pot mosterd en “bacon dust” in die hand gestop om in hul disse te gebruik.

Eers het hulle ‘n meestersklas bygewoon oor die voorbereiding van die vleis wat hulle die volgende dag in hul drie uur lange kooksessie moes toepas.

Die kokke het die geleentheid gehad om sekere voorbereidings vir hul disse die dag vantevore te doen.

Op die dag moes Johan elandfilet met tamatiesmoor en botterskorsie tortellini, bedien met basiliekruidpesto, as sy hoofdis voorberei.

Hy vertel dat hy vol selfvertroue oor die nagereg was, maar redelik benoud oor die vleis se voorbereiding.

Maar alles het darem goed uitgewerk en hy het sy mede-kokke met ‘n gemiddeld van 87.77% uitgestof.

Johan, wat eers in gr. 10 Gasvryheid-studies as vak begin neem het, is glad nie ‘n vreemdeling in die kombuis nie en vertel dat hy kleintyd al in die kombuis doenig was.

“Vandat ek ‘n lepel kon vashou, het ek saam met my ma koek gebak.”

Hoewel hy eers so saam-saam koek gebak het en pannekoek die eerste ding was wat hy bemeester het, verkies hy om te kook eerder as te bak.

Sy gunstelingdisse om voor te berei is iets met pasta en hy bederf graag sy familie met filet, skyfies, sampioensous en slaai.

Johan speel graag rugby, maar sy groot liefde is hengel.

Me. Elsa Matthee, Johan se Gasvryheidstudie-onderwyser, sê sy is baie bly dat die geleentheid oor sy pad gekom het en dat die Erries baie trots op hom is.

Sy beskryf Johan as ‘n gemotiveerde, gedissiplineerde, georganiseerde, vasberade, netjiese seun, almal eienskappe van ‘n goeie sjef en sy wens hom alle voorspoed toe vir die toekoms.

Sy het ook me. Troubelene Diedericks, Adjunkhoofonderwysspesialis van Mpumalanga-skole, bedank vir die geleentheid wat sy skole in Gasvryheidstudie bied.

Johan droom om eendag sy eie restaurant te bedryf en vind sy inspirasie by Gordon Ramsay, “dis nou sonder die gevloekery”.

Hy hoop ook dat sy droom en liefde vir hengel mekaar sal kan aanvul met ‘n spesialiteit-visspyskaart sodat hy vis wat hy self gevang het, kan bedien.

Related Articles

Back to top button