By the wayOpinion

Maak elke dag Mandela-dag

Maak 'n lekker pot sop en gaan laai dit by haweloses af. 'n Warm maag dra by tot 'n warm hart.

Dinsdag was Mandela-dag en almal is versoek om vir 67 minute iets goeds vir ander mense te doen.

Oral is gesprekke gevoer oor wat mense gaan doen om vir dié klein tydjie die lewe vir iemand anders makliker te maak.

Sosiale netwerke het gegons van video’s en inskrywings van goeie dade regoor die land.

Baie planne is gemaak en goeie dade wat regtig die hart aangeraak het, is gedoen.

My persoonlike mening is dat ons elke dag en minuut van die jaar goed vir mekaar moet wees.

Gaan kuier by ‘n eensame bejaarde in ‘n ouetehuis of by sy of haar huis en neem ‘n tydskrif of twee saam.

Jou tyd is vir ‘n alleenmens kosbaarder as al die geld in die wêreld.

Neem iemand wat nie ‘n motor het nie om inkopies te doen en maak ‘n groot verskil in daardie persoon se lewe.

Die kinderhuise in die dorp het altyd die hulp van vrywilligers nodig om die lewe vir die kinders makliker te maak.

Die vroue kan deur die jaar hul ou wol gebruik en kombersies vir bejaardes brei of hekel.

Sorteer jou huis en klerekas gereeld uit en gee dit wat jy nie meer gebruik nie vir dié mense wat dit wel kan gebruik.

Maak ‘n lekker pot sop en gaan laai dit by haweloses af. ‘n Warm maag dra by tot ‘n warm hart.

‘n Oproep na ‘n familielid wat ver is, sal ook die hart vir langer as 67 minute verbly.

Moet egter nie vergeet om goed vir jouself en die mense naby jou te wees nie, want goedhartigheid begin by die huis.

Wees goed vir mekaar – die lewe is kort.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button