CrimeNews

Jongman (21) dood gevind op plaas

“Toe ek daar aankom het ek gesien dit is hy, dit was sy bene. Sy kop was toegedraai met ’n kombers, hy was daar in die veld afgegooi. Hy was lankal dood sy velkleur het verander,”

Article by Witbank news

’n 21-jarige man van Ga-Nala se liggaam is op ’n plaas net buite die dorp gevind, nadat hy vir vier dae vermis was.
Volgens André Nortjé se ouma het sy hom die laaste keer op Woensdag 22 Maart gesien voor hy die huis verlaat het.

“Hy het net sy ‘boxer’-broek aangehad sonder ’n hemp of skoene. Ek kan nie glo hy sou so-iets doen nie,” het me. Annette Makkink gesê.

Volgens Makking het sy Woensdag na hom gesoek en gesien dat die slot in die hek is, maar dit was net ingehak en nie toegesluit nie.

“Hy het vroeër gesê hy wou sy musiekboks na een van sy vriende toe vat om reg te maak. Ek het vir hom gesê hy moet vir sy ma wag,” het Makkink gesê.

André se ma, me. Nicolene Pringle het later die aand besef André is vermis. Sy het orals rondgevra, maar niemand het geweet waar André is nie.

“Hy het nooit die huis verlaat nie en het net saam ons gegaan waar ons gegaan het, as hy gim toe gegaan het het ek hom self gevat en gaan haal,” het sy ma gesé.

Om moontlike leidrade te kry het André se ma sy facebook-blad gefynkam, maar daar is net Christelike boodskappe op, daar was niks vreemd nie en niks het verander nie.

“Iemand het hom kom haal en gevat, al sy besittings is net so gelos – sy foon, sy sigarette, al sy klere. Die enigste ding wat weg was, is sy tablet,” het sy gesê.

Intussen het ’n familievriend, mnr. Edwin Nel, ’n vermis plakkaat van die Pink Ladies ontvang en dit gepos op die Kriel 911 South Africa en op die Kriel Sector 1 CPF groepe.

Maandag, 27 Maart het die polisie gebel en André se ma verwittig dat hulle ’n liggaam op ’n plaas net buite die dorp, langs Emkopeni, gekry het en dat hulle vermoed dat dit moontlik haar seun kan wees. Die polisie het gevra dat sy die liggaam moet kom uitken.

“Toe ek daar aankom het ek gesien dit is hy, dit was sy bene. Sy kop was toegedraai met ’n kombers, hy was daar in die veld afgegooi. Hy was lankal dood sy velkleur het verander,” het sy ma gesé.

Makkink moes haar vriend vra om die uitkenning te voltooi aangesien sy nie langer na sy blou liggaam wou kyk nie.

“Ek was te hartseer.”

Die uitslae van die nadoodse ondersoek is nog nie ontvang nie, maar die polisie ondersoek ’n saak van moord.
Makkink het gesê dat hulle geen idee het wat regtig gebeur het nie.

“Daar is baie bespiegelinge, maar wat die waarheid is, weet ons nie.”

Nel het gesê dat André positiewe keuses uitgeoefen het

“Hy was’n rolmodel vir die kinders.”

Teen druktyd was geen begrafnisreëlings nog bekend nie.

Related Articles

Back to top button