LettersOpinion

Ons het hoop

Ons is oorweldig en kan nie in woorde behoorlik sê wat almal vir ons beteken het nie.

Marc, Juanita, Kyle en Chloë Verfaillie, Ermelo:

Oh: “Do you have a plan?”
Tip: “No, but I have hope.”
(Uit: Home, Dreamworks, 2015)

Dit is ongeveer hoe ons familie die afgelope paar maande gevoel het. Maar behalwe hoop, is daar nog twee dinge waarsonder ons nie dié reis sou kon oorleef nie en waarvoor ons oneindig dankbaar is.

Ons is dankbaar vir geloof. Ons het ‘n wonderwerk gesien in Kyle se ongelooflik suksesvolle operasie.

Dié 10-jarige seuntjie se lewe is gespaar en die dokters is verstom oor sy goeie vordering.

Ons is dankbaar vir soveel genade van God. Ons weet die Here self, die Groot Geneesheer, was langs Kyle se operasietafel.

Dit was nie maklik nie, maar ons het Kyle vir God gegee en Hom vertrou.

Ons het ook gesien hoe baie mense se geloof versterk is in dié tyd en hoe harte aangeraak is. Ons weet God is verheerlik.

Ons is ook dankbaar vir liefde.

Ons sal dit nooit vergeet nie, want Kyle se operasie is op Valentynsdag gedoen.

Sanger Francois Henning, oftewel Snotkop, het in sy videoboodskap aan Kyle gesê dat hy net liefde nodig het.

Dit sou vir ons onmoontlik wees om die situasie te hanteer sonder die liefde en ondersteuning van familie, vriende en die Ermeloërs.

Ons is oorweldig en kan nie in woorde behoorlik sê wat almal vir ons beteken het nie.

Kyle en sy gesin is gedra op vlerke van gebed deur mense wat werklik omgee.

Geldinsamelings en skenkings het ons sprakeloos gelaat en daarom sê ons hier dankie vir al die hulp.

Vreemdelinge het deel van ons lewe geword. Mense het saamgebid, gehuil en ook gelag toe Kyle weer sy ondeunde self begin word.

Toe Kyle gediagnoseer is, het ons nie ‘n plan gehad nie. Maar daar was Geloof, Hoop en Liefde.
Baie dankie dat julle deel is daarvan.

“Regardless of what the impossibility of the situation is, there is a moment when you open your mouth and you throw open your arms and you embrace the thing and you just say, ‘Hallelujah! Blessed is the name of the Lord!'” (Leonard Cohen oor sy lied Hallelujah.)

Related Articles

Back to top button