Local newsNews

Esterhuysens groet Ermelo

Dié dinamiese egpaar wat oor die jare 'n impak op soveel lewens gehad het, het die voorreg aangegryp om nader aan hul kinders en kleinkinders te woon.

Dié dinamiese egpaar wat oor die jare ‘n impak op soveel lewens gehad het, het die voorreg aangegryp om nader aan hul kinders en kleinkinders te woon.

Essie het sy hoërskoolloopbaan aan die EHS voltooi en ná sy studies in Heidelberg in 1966 sy eerste pos as Afrikaans-onderwyser by Laerskool JJ van der Merwe aanvaar.

In 1969 het hy Meyerton toe verhuis waar hy by Dr. Verwoerd aangesluit het.

Dit was ook in dié jaar dat hy en Arona getroud is.

Arona het haar skoolloopbaan by Dr. Malan in Meyerton voltooi en later 18 jaar daar klas gegee.
In 1985 het die paartjie terug verhuis na Ermelo waar Essie as hoof van Laerskool JJ van der Merwe aangestel is en

Arona as Wetenskaponderwyser by Hoërskool Ermelo.

Albei was in hul jonger dae uitblinkers op die sportveld. Arona was ‘n provinsiale hekkies- en verspringatleet wat tot op nasionale vlak meegeding het.

Sy het dié talent ten volle benut as afrigter van atletiek en hokkie by die EHS.

Haar hokkiespanne het verskeie kere die destydse Direkteursbeker verower.

Essie is ‘n rugbyman en het op sy tyd vir Oos-, Suidoos – en Transvaal uitgedraf.

Die koerantman Corrie Kleinhaus onthou Essie nog as ‘n puik agterspeler wat in 1962 in die halfeindtryd van die

Administrateursbeker vir die EHS se eerste span teen Helpmekaar uitgedraf het.

As senter, sê Corrie, het Essie sterk hardlooprugby gespeel vir die Ermelo Rugbyklub wat in 1966 die Oos-Transvaal Groot Uitdaagbeker gewen het.

Ermelo was die enigste plattelandse span wat nog dié beker kon wen en Essie was een van die uitblinkers in dié wedstryd.

Die egpaar se ingebore talent en liefde vir sport is oorgedra aan hul twee seuns, Neil en Joe, wat in hul onderskeie matriekjare by die EHS kaptein was van die eerste rugby-, krieket- en interhoëratletiekspan.

In 2005 het Arona die tuig neergelê en twee jaar later het Essie as een van die bes-gekwalifiseerde laerskoolleerkragte (BA, B.Ed, M.Ed) afgetree.

Die twee is steeds aktief en stap nog gereeld hul 4 tot 6 km-roete deur die woongebiede.

Hulle beplan om gereeld te kom kuier en gaan beslis vriendskappe wat in die afgelope 31 jaar gesmee is, baie mis.

“Groetnis vir al die mense wat vir my kwaad was en die wat nie vir my kwaad was nie.” Só groet Essie almal op die manier eie aan hom.

Related Articles

Back to top button