Local newsNews

Genade onbeskryflik groot…

"As dit met my gebeur het om God by die mense uit te bring, sal ek dit alles weer deurmaak."

Sonja Kirk vertel hoe haar kankerdiagnose eers gevoel het of iemand ‘n mat onder haar uitgeruk het en hoe sy werklik haar Skepper ontdek het.

Ouder gewoonte het Sonja in Februarie vir haar jaarlikse roetine ondersoek gegaan.

Tydens die ondersoek het hulle iets in haar linker bors gemerk, maar hulle het haar verseker dat alles pluis is en sy geen rede tot kommer het nie.

Waarom sou daar dan wees, sy leef ‘n gesonde leefstyl, rook nie en haar familiegeskiedenis is kanker vry.

Vyf maande later, in Augustus bevind sy haarself weer in die dokter se spreekkamer vir ‘n verkoue wat sy net nie kon afskud nie, tydens die besoek vertel sy haar dokter dat dit voel of sy ‘n spiertjie bo haar bors seergemaak het en dat hy asseblief daarna moet kyk.

Net om seker te maak stuur hy Sonja vir ‘n mammogram en sonar.

Weereens is alles afgemaak as “normaal” en dat daar geen rede tot kommer is nie.

Die keer kon Sonja nie die stemmetjie in haar kop ignoreer nie en besluit om vir ‘n tweede opinie te gaan.

Die uitslag was wat niemand graag wou hoor nie, sy het kanker in albei borste.

Maar die raarheid is dat dit verskillende tipe kankers is.

Sonja is toe dadelik terug na haar huisdokter en sy vertel dat hy daardie dag wonders verrig het deur dadelik vir haar ‘n afspraak by ‘n onkoloog en plastiese chirurg te kry.

Sy vertel dat die kanker in haar linkerbors nie so aggresief was nie en met hormone geblok kan word maar in die regterbors het die aggresiewe trippel negatiewe kanker reeds al die weefsel “siek” gemaak.

Die onderarm limfkliere dien as ‘n verspreider na die res van die liggaam, aan die linkerkant het die kanker nog nie na die kliere dreineer nie, maar regs het dit toe reeds na twee kliere versprei.

‘n Paneel dokters by die Little Company of Mary het Sonja se diagnose bespreek en tot die slotsom gekom dat daar geen ander uitweg is as om albei haar borste te verwyder nie.

Al tien limfkliere onder die regterarm is ook verwyder wat op sy beurt ‘n hele reeks nuwe uitdagings bied met dreinering wat nie meer kan plaasvind nie.

Haar lewe het in ‘n oogwink verander, maar die Here het haar tot dusver deur alles gedra.

“Almal sê hulle is Christene, maar wie leef regtig hul Christenskap, ek self het eintlik eers nou werklik my Skepper ontdek,” sê Sonja.

Haar geloof is sterk, sy bly positief en sê deur haar borste te verloor het die Here vir haar ‘n tweede kans op die lewe gebied.

Sonja vertel ook dat sy nie die pad alleen geloop het nie, ondersteuning en opofferings van haar familie, vriende en werknemer het haar ook sovêr deur alles gedra.

” Ek wil net baie dankie sê vir my Hemelse Vader, my man Jan Kirk, my dogter Yolandé Landman en my twee seuns Jaco Kirk en Willem Landman. My familie, my ondersteuningsnetwerk wat al my great vriendinne insluit, my werkgewers Kobus en Deo Botha (Weststreet Guesthouse) asook my kollegas. Dr. Anton Kraftt en Sanet Krafft en André Vermeulen van die Ermelo Oos gemeente. Julle is almal awesome mense! Ek waardeer julle en dankie dat julle die proses soveel makliker maak.”

Sonja begin die 20ste van dié maand met chemoterapie en het reeds haar pruik aangeskaf, gedetermineerd dat dit haar nie onder sal kry nie.

Haar raad aan almal is om voorbereid te wees, elke jaar jou toetse te doen, jou eie liggaam te ken en te luister na die stemmetjie, indien moontlik hê ‘n mediesefonds, traumapolis en gapingsdekking in plek en die belanrikste van alles leef jou Christenskap, die Here se genade is onbeskryflik groot.

“Gister is verby, môre is nie gewaarborg nie. Ons het net vandag! Leef hom voluit en positief! Jou fokus moet altyd op die Here wees en vertrou Hom, Hy gaan nooit terug op Sy beloftes nie.”

Enige persoon wat met Sonja in verbinding wil tree vir raad, navrae of inspirasie, kan deur die Hoëvelder met haar in verbinding tree.

Related Articles

Back to top button