GalleriesSchools galleries

Liggies eers in halfeind gestuit

Ligbron se eerste span het vanjaar 523 punte aangeteken waarvan 84 drieë was, terwyl die span slegs 18 drieë afgestaan het.

Galery:

Ligbron Akademie vir Tegnologie se John Wright Veneers eerste rugbyspan het Saterdag ‘n puik seisoen afgesluit toe hulle in die halfeindronde van die Beeld-trofeereeks vir groot skole teen die verdedigende kampioen, Helpmekaar-kollege van Johannesburg, te staan gekom het.

Die Helpies het die wedstryd 27-15 gewen en kom Saterdag teen Hoërskool Lichtenburg in die eindstryd te staan.
Helpmekaar het vanjaar met die top makroskole afgereken en het lof vir die Liggies se eerstespanspelers gehad.

Hulle het Ligbron bedank vir hul gasvryheid en ook genoem dat dié een van hul hardste wedstryde vanjaar was.
Helpmekaar het in die eerste drie minute met ‘n strafskop geslaag waarop Ligbron met ‘n puik steelkantdrie deur Luwazi Sithole teruggeslaan het.

Gert Cronjé het die drie verdoel en die telling het vir ‘n geruime tyd op 7-3 in Ligbron se guns gestaan terwyl die twee pakke mekaar verwoed aangevat het.

Helpies se Cravenweek Leeu-heelagter, Chuiner van Rooyen, het ‘n bal uit die lug gevang en onder die pale oorgeduik vir ‘n puik individuele drie wat hy ook verdoel het.
Hy het ook later ‘n tweede strafskop oorgeskop wat die rustydtelling op 7-13 in Helpmekaar se guns te staan gebring het.

In die tweede helfte het ‘n besering aan die vaskopstut van die Liggies, Tiaan Beeslaar, daartoe gelei dat die Liggies in die skrumsswaargekry het en die seuns moes aanslag op aanslag van Helpmekaar afweer.

Ná volgehoue druk van die Helpies, het hul flank, Robbie Slabbert, oorgeduik vir hul tweede drie. Van Rooyen het die drie verdoel en die telling tot 7-20 opgejaag. Gert Cronjé het daarna met ‘n strafdoel vir Ligbron geslaag wat die telling op 10-20 te staan gebring het. Twee verbroude strafskoppe het die Liggies duur te staan gekom en laat in die wedstryd het Helpmekaar se plaasvervangers gehelp om ‘n doel (10-27) aan te teken.

Die Liggies het in die doodsnikke van die wedstryd gewys waarom hul vanjaar met ‘n wenrekord van 16 uit 18 wedstryde spog. Hemilton Mnisi het die laaste sê gehad en in die doodsnikke van die wedstryd oorgeduik vir ‘n onverdoelde drie wat die eindtelling op 15-27 te staan gebring het.
Ligbron se eerste span het vanjaar 523 punte aangeteken waarvan 84 drieë was, terwyl die span slegs 18 drieë afgestaan het. Die span is aangewys as een van die topspanne by die Tony Stoop Rugbyfees in die Kaap, waartydens

Marnus Scheepers as die speler van die toernooi aangewys is. Die span was die onoorwonne wenners van die Superreeks en is ook vanjaar die Mpumalanga Groot Skole-kampioen.

In ‘n wedstryd wat lank sal onthou word vir aanskoulike hardlooprugby het die Liggies se 0/16A’s begeesterd op die veld gedraf en van meet af Hoërskool Oos-Moot van Pretoria onder groot druk geplaas.

Ligbron se Luigi Cirigliano het vanaf ‘n lynstaan sy span se eerste drie gedruk en ook verdoel om die telling op 7-0 te staan te bring.

Ligbron is deur Oosmoot in sy eie kwartgebied vasgepen waarna Oos-Moot gaan druk het om die telling op 7-5 te staan te bring. Ná ‘n wipplankryery het die heelagter van Ligbron, Philani Zwane, ‘n drie gedruk wat ook deur Luigi Cirigliano verdoel is (14-5).

Oos-Moot het daarna ook ‘n doel aangeteken wat die rustyd telling op 14-12 in Ligbron se guns te staan gebring het.
Kort ná die begin van die tweede helfte het Ligbron druk op Oos-Moot geplaas en verdoelde drieë deur Franco Coetzee en Collin Scheepers het Ligbron verder laat voorloop.

Beserings aan Ligbron se losskakel, flank en slot het meegebring dat veranderings gedoen moes word en die tempo van die wedstryd het in die guns van Oos-Moot geswaai.

Oos-Moot het met dryfbewegings deur hulle voorspelers nog twee drieë aangeteken, waarvan een in die laaste minuut gedruk is en die wedstryd met 32-28 in hul guns beklink.

 

Related Articles

Back to top button