Local newsNews

Leechelle kan al mooi ‘split’

Sy speel en dans saam met boetie en sussie en kan "splits" doen, iets waarop sy baie trots is.

Vyf jaar gelede het Lionel en Charlet van Zyl van Ermelo die nuus ontvang dat hul jongste baba, Leechelle, met Downsindroom gebore is.

Aanvanklik was die nuus vir hulle ‘n skok en soos enige ander ouerpaar was die onsekerheid en die onbekende pad wat vir hulle sou voorlê, ‘n groot uitdaging.

Die spesiale versorging en aandag wat Leechelle sou moes kry terwyl hulle genoegsame aandag aan hulle twee ouer kinders moes gee, was ‘n groot bekommernis.

Maar gou het die vrese en bekommernisse verdwyn en Leechelle het diep in hulle harte en dié van ouboet Jayden en sussie Chanel ingekruip.

Maklik was dit geensins nie en mediese koste, gereelde doktersbesoeke en terapiesessies het onafwendbaar deel van hul lewens geword.

Met die spesiale aandag wat Leechelle se versorging verg, is dit nie moontlik vir Charlet om uit te gaan om te werk nie en die gesin se beperkte inkomste en die feit dat hulle nie oor ‘n mediese fonds beskik nie, het hul eie uitdagings teweeggebring.

Vandag, vyf jaar later, is Leechelle ‘n lewendige bondel energie wat die gesin op hul tone hou, maar steeds daardie ekstra bietjie aandag verg.

Sy speel en dans saam met boetie en sussie en kan “splits” doen, iets waarop sy baie trots is.
“Die realiteit is dat Leechelle nie in ‘n gewone skool saam met ander kinders sal kan skoolgaan nie.
“Sy sal nie aan sport of aktiwiteite op dieselfde vlak as ander nie-Downkinders kan deelneem nie.
“Dit het ons van die begin af geweet en dit so aanvaar,” het Charlet gesê.

“Ons het egter agtergekom dat daar nie op Ermelo ‘n skool is wat spesifiek vir gestremde kinders se behoeftes voorsiening maak nie.

“Daar is tog ander kinders wat weens hul gestremdheid nie in die ‘gewone stroom’ kan inpas nie en namate hul ouer word, spesiale onderrig en stimulasie nodig het.

“Dit is vir die ouers hartverskeurend om hulle kinders na ander dorpe te moet stuur waar sulke geriewe wel beskikbaar is.
“Dit is asof mens jou kind elke week moet ‘weggee’ en dan weer moet gaan haal.

“Dit is óf dit óf ‘n mens moet ten koste van jou ander kinders verhuis en die pa moet weer anderkant gaan werk soek,” het sy bygevoeg.

Die moontlikheid van ‘n gespesialiseerde inrigting of ten minste ‘n speelskool waar kinders met gestremdheid of spesiale behoeftes gereeld bymekaar kan kom, het tydens die gesprek met Charlet na vore gekom.

“Ek weet dit beteken dat opgeleide personeel nodig sal wees en geld sal bekom moet word om salarisse, huur en ander uitgawes te betaal.

“Dalk is daar iemand wat raad het, of plaaslike sakeondernemings wat kan saamstaan en so-iets op die been kan bring vir ons dorp.

“Die ouers van al die spesiale kinders sal hul ewig dankbaar wees.”

Intussen het Leechelle tydens die onderhoud haar besig gehou met die joernalis se pen en notaboekie en gewys dat haar krulletjies en draaitjies baie mooier is as die oom se lelike handskrif.

Related Articles

Back to top button