OpinionTerloops

Die ongesiene talentvolles

Almal kan nie in die kalklig wees nie. daarom wil ek 'n lansie breek vir almal wat stilweg hul eie ding doen, op watter terrein ookal.

Om die beste te wil wees op een of ander terrein is sekerlik ons elkeen se droom.

Hoeveel keer het ons nie almal in die geheim ons eie denkbeeldige oorwinning voor ‘n juigende skare gevier nie.

Veral as kind het ons elkeen een of ander ster nageaap en gemaak of ons die applous ontvang as ons oor die wenstreep verbyflits, die wendrie aanteken of wenlopies slaan.

Ons ontwikkel ‘n bewondering vir sportsterre, sangers en akteurs en raak in vervoering wanneer hul presteer of nuwe hoogtes bereik.

Maar, helaas, ons kan nie almal in die kalklig wees nie. Daarom wil ek ‘n lansie breek vir almal wat stilweg hul eie ding doen, op watter terrein ookal. Ongesien deur die massas, gaan hulle voort om hul besonderse talente te beoefen, weg van die kollig.

Daar is nie dawerende applous nie. Daar is ook nie goue bekers, mure behang met medaljes of sertifikate om te wys nie.

Êrens in ‘n laai skuil daar miskien ‘n sertifikaat of twee vir goeie gedrag of dalk ‘n deelnamemedalje of twee. Hulle het wel gedien as aansporing, maar nie veel meer nie.

Ware talent kom in alle fasette van die lewe voor, maar word dikwels nie raakgesien nie. Dit is ook nie dat talente onder die spreekwoordelike maatemmer geberg word nie.

Inteendeel, die talente word wel beoefen, maar word net nie aan die groot klok gehang nie.

Sô het elkeen sy of haar besonderse talent of gawe ontvang en ek glo daar is baie talentvolle mense in ons en elke ander gemeenskap wat net wag om ontdek te word.

Hulle soek nie die flitsende liggies of applous nie. Hulle wil net gesien en erken word.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button