Local newsNews

Botsing beëindig wilde jaagtog

Van die aanklagte sluit in poging tot moord, roekelose en nalatige bestuur, opsetlike saakbeskadiging en versuim om aan 'n polisiebevel gehoor te gee.

‘n Jaagtog van 140km vanaf die Mahamba-grenspos naby Piet Retief tot op Ermelo het byna tragies geëindig toe drie polisievoertuie en ‘n Volkswagen Caravelle in ‘n botsing betrokke was.

Die 31-jarige voortvlugtende wat skynbaar ‘n minder ernstige oortreding begaan het, het hom gedurende die jaagtog ‘n rits aanklagte op die hals gehaal. Kapt. Carla Prinsloo, die polisiewoordvoerder op Ermelo, het gesê die drama het omstreeks 01:00 Saterdagoggend naby die Mahamba-grenspos, sowat 40 km vanaf Piet Retief, begin.

Die bestuurder van die Caravelle met drie passasiers het versuim om by ‘n padblokkade stil te hou,nadat hy vermoedelik te vinnig gery het.

Die polisie op Piet Retief is in kennis gestel, maar die voortvlugtende het hulle ontglip en op die N2 na Ermelo weggejaag.

Polisie op Sheepmoor en lede van die plaaswag is verwittig en het die voertuig ingewag, maar ook daar het die bestuurder nie stilgehou nie.

Intussen het een van die passasiers ‘n stuk papier met die woord “Help” daarop geskryf teen die agterste ruit vasgehou wat die polisie onder die indruk gebring het dat ‘n kaping plaasgevind het.

Omdat die veiligheid van die “gekaaptes” op die voorgrond geplaas is, is daar nie op die voertuig geskiet nie.

Die Caravelle is tot op Ermelo agtervolg waar polisielede dit ingewag het, maar die bestuurder het deur rooi verkeersligte en stopstrate in Gen. Hertzogstraat gejaag tot by Gen. Bothaweg waar hy regs gedraai het.

By Hubbardstraat kon ‘n polisielid egter daarin slaag om ‘n band van die voertuig raak te skiet,maar steeds het die bestuurder nie stilgehou nie. Die voertuig is agternagesit, maar die bestuurder het teen die polisievoertuig gestamp toe daar gepoog is om hom verby te steek.

Die jaagtog het omstreeks 02:30 op die hoek van Gen. Bothaweg en die pad na Morgenzon ten einde gekom toe die Caravelle teen twee ander polisievoertuie gebots het. Een van die polisevoertuie het omgeslaan. ‘n Polisielid van Ermelo is lig beseer in die botsing en deur lede van die Mpumalanga provinsiale ambulansdienste na die Mediclinic Ermelo geneem.

Die Caravelle het enkele meters verder in ‘n veld tot stilstand gekom, maar die bestuurder het uitgespring en weggehardloop. Hy is kort daarna aangekeer. Sy passasiers, ‘n vrou en twee kinders, is ongedeerd. Die bestuurder van die Caravelle, Skhumbuzo Msele (31), het Maandag in die hof op Ermelo verskyn en staar verskeie aanklagte in die gesig.

Van die aanklagte sluit in poging tot moord, roekelose en nalatige bestuur, opsetlike saakbeskadiging en versuim om aan ‘n polisiebevel gehoor te gee.

Die Volkswagen Caravelle het ná 'n jaagtog van byna 140km en botsings met drie polisievoertuie in 'n veld in Cassimpark tot stilstand gekom.
Die Volkswagen Caravelle het ná ‘n jaagtog van byna 140km en botsings met drie polisievoertuie in ‘n veld in Cassimpark tot stilstand gekom.

Related Articles

Back to top button