Local newsNews

Drie manne en ‘n emmer vol drome

Die droom om Afrika land vir land te verken, uit te reik na armer gemeenskappe en sy kluitklaplysie te voltooi, het eindelik vir Marius Scholtz waar geword.

Die droom om Afrika land vir land te verken, uit te reik na armer gemeenskappe en sy kluitklaplysie te voltooi, het eindelik vir Marius Scholtz waar geword.

Marius, sy seun Marco en Herman Pretorius het Sondagoggend vertrek om die eerste land op die lysie, Mosambiek, te verken.

Tydens hul besoek van 31 dae sal hulle ‘n dokumentêr genaamd Leef jou droom- Mosambiek “Bucketlist” verfilm.

Altesaam ses episodes sal geskiet word en bestaan uit vyf segmente naamlik 4×4, kosmaak, kluitklaplysie, uitreiking na die armes en voorafopgestelde onderhoud met een of meer van die plaaslike inwoners.

Marius, die man met die joernalistieke agtergrond, sal voor die kameras te sien wees met Herman wat verantwoordelik is vir die kamerawerk en tegnologie en Marco sal hand bysit waar nodig.

Marius sê dat hulle nie gesoute 4×4-entoesiaste of fynproewerkokke is nie en dat hulle sal leer soos hulle aangaan.

Volgens Marius, is hulle ingerig vir alle onvoorsiene omstandighede juis omdat hulle leke is. Hy hoop om ander wat self nie gesoute reisigers is nie te inspireer om dapper genoeg te wees om die onbekende aan te pak.

In Herman se woorde: “Ons ‘wing it’; sal maar elke situasie hanteer soos dit opduik.” Gedurende die uitreikdeel van hul toer sal die span sokkerballe en skoene aan afgesonderde gemeenskappe oorhandig.

Die kluitklaplysiedeel sluit onder meer ‘n besoek aan die Gorongosa Nasionale Park, perdesafari op die strand, ‘n skubaduiksessie, hengel en die voorreg om saam met dolfyne te swem, in.

Afgesien van die verskillende kameras en nodige toerusting om die episodes te verfilm en kontak met Corné (Marius se vrou) wat die fort hier hou, te hê, pak die drie Mosambiek met net die basiese lewensbenodighede en ‘n groot eerstehulpkas aan.

Marius erken dat hy beslis gaan verlang, veral omdat dit die eerste keer sal wees dat die gesin so lank uitmekaar is.

Hy het gesorg dat daar ‘n paar foto’s op sy skootrekenaar gelaai is vir wanner die verlange huis toe knaag. ‘n Weeklikse gesinstydskrif gaan saam vir die af-uurtjies.

Sy seun Edian het vir hom ‘n gelukbringer gegee wat reeds om sy nek hang.

Vir Herman sal dit sy eerste besoek aan Mosambiek wees en hy neem twee boeke saam.

Hy hoop om terug te keer met hoop en kalmte in sy siel sodat hy die toekoms met duidelikheid kan aanpak.

Marco mag nie sy foon saamgeneem het nie en pak die reis dus sonder enige persoonlike besitting aan.

Hy hoop dat die ondervinding die band tussen hom en sy pa soveel meer sal versterk.

Die manne se reis het Sondagoggend om 02:00 begin, gewapen met Marius se leuse dat mens eerder spyt moet hê oor dinge wat mens wel gedoen het eerder as oor dinge wat jy nie gedoen het nie.

Volg die drie manne op hul avontuur op hul facebookblad: Mozambique Bucket-list-Leef jou droom en op die Hoëvelder se webblad by www.highvelder.co.za.

IMG_2IMG_3IMG_3

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button