Local newsNews

Die lewe van ’n motorwag

Die gesprek met Dries laat mens deur ’n heel ander bril na motorwagte kyk.

Om ’n motorwag te wees is nie so maklik soos sommige mense meen nie.
Dit het duidelik na vore gekom toe die Hoëvelder met Andries (Dries) du Plooy gesels het.

Dries (61), die vriendelike man met sy kenmerkende geel beffie en “luisteraparaat” (slaanstok) wat langs sy sy hang, is seker die bekendste motorwag in Ermelo en verrig dié taak reeds byna 14 jaar lank in die middedorp.

Hy het vroeër ’n oog oor die motors by die Spar parkeerterrein gehou maar het later besluit om na ’n gedeelte van Jan van Riebeeckstraat te skuif waar hy meer van nut kan wees.

Dries was vroeër 21 jaar lank ’n staandemag lid in die SA Weermag maar moes weens gesonheidsredes die mag verlaat.

Omstandighede het veroorsaak dat hy draaie in die Limpopo se Bosveld en ook in Kwa Zulu Natal gemaak het maar bevind himself sedert 2003 op Ermelo.

Hy woon sedert sy vrou se dood etlike jare gelede alleen in ’n woonstel in die dorp waarvoor hy maandelike huur moet betaal.

“Ek ontvang wel ’n staatspensioen maar dit is nie naastenby genoeg om elke maand deur te kom nie. Verblyf, en die ewig stygende lewenskoste sluk daai geldjies gou-gou in en ek moes ’n ander manier vind om my inkomste aan te vul,” het hy gesê.

Sy besluit om ’n motorwag te word was nie ’n maklike een nie. Die ure is lank en mens word blootgestel aan die elemente, winter en somer. Soms moet hy ook afjakery en snedige aanmerkings verduur.

“Dit gebeur gelukkig nie baie dat mense my sulke aanmerkings toesnou nie. Die mense is oor die algemeen baie vriendelik teenoor my. Ek is nie ’n bedelaar nie. Ek verrig ’n diens aan die publiek en ek staan nie op straat met ’n bordjie om my nek met ’n storietjie daarop geskryf nie. Ek vra ook nie vir geld nie gevra nie. As iemand my wel iets gee omdat ek sy kar opgepas het is dit uit vrye keuse. Andersom, as iemand my niks gee nie aanvaar ek dit so en ons bly vriendelik met mekaar,” het hy verduidelik.

As gevolg van misdaad wat toegeneem het en die publiek wat toenemend met krediet en debietkaarte sake doen is daar minder kontant in mense se beursies, meen Dries.

“Ek het dit in die laaste tyd agtergekom en saam met die sukkelende ekonomie dra mense minder geld by hulle.” het Dries gesê.

“Die misdaad in die gebied waar ek motors oppas is baie stil. Ek glo dit is omdat ek hier ’n ogie hou. Ek sien soms is mense maar ietwat agterlosig en los hule motors se ruite oop of sluit nie die deure nie. Dit maak dit maklik vir grypdiewe om goed uit die motors te steel. Maar dan roep ek die eienaar terug of ek staan by die spesefieke motor totdat hy of sy terugkeer.”

Die gesprek met Dries laat mens deur ’n heel ander bril na motorwagte kyk. Dit is nie altyd maklik om die kanvatters raak te sien nie en mens is geneig om te veralgemeen.

In Dries se geval kry ’n mens te doen met het ’n vriendelike sobere mens met ’n gesonde en eerlike uitkyk op die lewe.

’n Motorwag en nie ’n bedelaar nie.

Related Articles

Back to top button