Almal het ‘n ‘olifant’

Sy't 56kg afgeskud sedert September 2014.

Saretha Ferns is voorwaar ‘n inspirasie vir almal wat haar pad kruis.

Sy het besluit om haar lewe te verander en met die hulp van die Here maak sy vandag ‘n verskil in ander se lewens.

In die laaste 11 jaar het sy nie net drie kinders ryker geword nie; sy het ook swaarder geword.
60 kg oorgewig, het sy gedink sy is gelukkig totdat sy tot die besef gekom het dat sy gesonder moet leef as sy vir haar man en kinders gespaar wil bly.

Op ‘n Vrydag in September 2014 het sy besluit tot hier toe en nie verder nie en so haar Banting-leefstyl met die beginsel van ‘n groot ontbyt begin.

Drie maande later het sy reeds 40 kg verloor en oorweeg om dié leefstyl te laat vaar.

Maar die Here het ander planne met haar gehad en vir haar in haar hart gesê dat dit haar bediening is en dat sy ander moet help.

So het sy haar storie gedeel en ander geïnspireer en bygestaan om ‘n gesonder lewe te lei en hulle sodoende ook geestelik te verryk.

Saretha sê almal het ‘n “olifant” in hul lewe en hare was kos.

Vandag het sy haar “olifant” oorwin en met die hulp van die Here help sy ander om hul “olifante” in beheer te bring.

“Dit is nie iets wat jy as mens self kan doen nie; dis net moontlik met die hulp van die Here,” sê Saretha.
‘n Rit op ‘n olifant nadat sy 55 kg afgeskud het, was vir haar simbolies van die olifant wat sy oorwin het en van ontslae geraak het.

Op die vraag hoekom nou juis ‘n Banting-leefstyl, sê Saretha dat sy al alles probeer het, maar toe sy hoor van “die

Tim Noakes-ou wat almal net wil kruisig oor sy idees, moes ek meer oor sy dieet leer”.

Hoewel sy die Banting-leefstyl volg, glo sy dat ‘n stewige ontbyt baie belangrik is.

Haar doelwit is om voor April nog 8 kg te verloor, waarna sy hoop om haar gewig te handhaaf en om inspirasie te vind om te begin oefen.

Saretha en haar man het vyf jaar gelede na Ermelo verhuis en dien as pastoorspaar by die Volle Evangelie Kerk.

Dis hier waar sy met die hulp van die gemeentesusters betrokke geraak het by die Annebel Foundation.

Saretha het ‘n passie om met jongmense en vroue te werk en om hulle te help om op “interessante” maniere die Here te ontdek.

Omdat sy self dogters het wat in die bevoorregte posisie is om vanselfsprekend dinge by haar te kan leer, het sy besluit om ander dogters wat nie so gelukkig is nie by te staan.

Annebel is ‘n organisasie wat tans landswyd 700 minderbevoorregte tienermeisies versorg.

Elke maand ontvang die meisies bederfpakkies wat verskeie higiëniese en skoonheidsprodukte bevat.

In Ermelo het Annebel vyf jaar gelede met vier dogters begin; dié jaar begin hulle met 34. Sy is baie opgewonde om binnekort nog dogters, wat deur skole geïdentifiseer word, by te kry.

Saretha is altyd bereid om te help, of dit nou ‘n “olifant” is of ‘n dogter wat hulp nodig het met die uitdagings wat vrouwees bied.

Vir inspirasie, besoek gerus Saretha se persoonlike Facebook-blad of skakel haar by 082 302 5335.

Diegene wat meer wil leer of betrokke raak by die Annebel-projek kan meer lees op hul Facebook-blad, Annebel Ermelo.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button