Local newsNews

Paula groet ná 30 jaar

Ná 30 jaar diens by Tuiskoop lê Paula die tuig neer; haar tyd vir aftrede het aangebreek.

Soos die koue wintersoggende en kosmosse langs die pad, is Paula Snoer deel van vele Ermeloërs se herinneringe van grootword en woon in die omgewing.

Almal ken vir Paula. Selfs in die supermark trek ‘n dogtertjie aan haar ma se rokspant en sê: “Daar’s die tannie van Tuiskoop.”

Ná 30 jaar diens by Tuiskoop lê Paula die tuig neer; haar tyd vir aftrede het aangebreek.

Oorspronklik van Somerset-Oos in die Klein-Karoo, het Paula en haar man in 1984 na Ermelo verhuis.

Paula was aanvanklik werksaam was by die destydse Edworks wat net om die hoek van Tuiskoop geleë was.

Haar man het soggens om 07:00 begin werk en het haar by Tuiskoop afgelaai waar sy haar tyd verwyl het tot sy moes werk toe gaan.

Paula was nog nooit een vir niksdoen nie en so het sy die vroue in die tuisnywerheid voor werk begin uithelp.

Sy het eendag genoem dat sy sou belangstel indien daar ooit ‘n vakature by Tuiskoop sou wees en twee weke later, op 6 Maart 1986, het sy voltyds daar begin werk.

‘n Maand nadat sy daar begin werk het, het die winkelure van half- na voldag verander.
Paula het nog altyd haar kliënte geken.

As die voordeur oopgaan en die klokkie aankondig dat iemand inkom, is hulle nog altyd vriendelik verwelkom.

Van mevrou-dominee tot die madala op sy dikwiel word op die naam gegroet en belangstellend uitgevra na hul welstand.

Sy is baie dankbaar vir al die wonderlike mense wat deur die jare oor haar pad gekom en haar deur dik en dun bygestaan het.

Paula sal vir eers nog in Ermelo aanbly, hoewel sy droom om weer na die Klein-Karoo terug te keer.

Sy het baie planne vir die toekoms en sien daarna uit om haar liefde vir kosmaak, brei, lees en stap weer ten volle te kan uitleef.

Haar broers, susters, niggies en neefs wil almal hê dat sy by hulle kom kuier, glo met die voorwaarde dat sy tot drie maande by van hulle deurbring.

Paula is een van 12 kinders, so die gekuiery behoort haar ‘n ruk besig te hou.

Soos sy deur die jare geleer het, kan alles in ‘n oogwink verander. “Ons wik, maar God beskik” en kan sy nie vir seker sê wat die toekoms vir haar inhou nie.

Sy dank die Here vir die 30 jaar wat sy die voorreg gehad het om by Tuiskoop te werk en is dankbaar vir elke lid, kliënt en vriend vir al hul liefde en omgee.

Ermelo gaan die Tuiskoop-tannie mis.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button