Editor's choiceLocal newsLocal sportNewsSport

So maklik soos 1,2,3

Sakkie spog met 'n ingooi van bykans 200m danksy 'n ingooi-kanon wat hy self gebou het.

Nuuskierigheid het verlede week die oorhand oor ‘n Hoëvelder-joernalis gekry toe hy ‘n man en sy helper in ‘n oop stuk veld in Wesstraat opgemerk waar hulle met ‘n vreemde apparaat doenig was.

Daar is ondersoek ingestel en gevind dat as dit by vindingrykheid en ‘n lekker lang ingooi kom, sal vissermanne en hengelaars maar met die tweede plek tevrede moet wees, want vir Ermelo se Sakkie van der Linde en sy tuisgeboude apparaat gaan hulle nie maklik klop nie.

Sakkie, wat tot 2007 in diens van Transnet Freight Rail was, spog met ‘n ingooi van bykans 200m danksy ‘n ingooi-kanon wat hy self gebou het.

Volgens Sakkie is hy “te lui” om die aas op die konvensionele manier daar ver in die diep water te probeer ingooi, daarom het hy dinge vir homself makliker gemaak.

Sakkie se visvang-kanon bestaan uit ‘n gebruikte brandblussersilinder wat op ‘n verstelbare stellasie gemonteer is, ‘n klep en ‘n lang plastiekpyp wat as die loop dien. Die apparaat word op verskillende grade van tussen 20° en 30° gestel om die gewenste hoogte en afstand te behaal.

Die silinder word met die behulp van ‘n battery-aangedrewe kompressor met saamgeperste lug tot ongeveer 7-bar gepomp.

Die voorbereide aas, vishoek en gewig wat saam in ‘n pasgemaakte ysbom gevries is, word dan sorgvuldig aan die lyn op die katrol vasgemaak en in die loop laat sak.

Met die oopmaak van ‘n klep word die gevriesde maaltyd vir die groot, vet visse die diep waters ingeskiet.
Ná sowat 10 tot 15 minute is die ys gesmelt en die visse geniet dan ‘n vars versnapering met ‘n klein skerp verrassing wat daar binne skuil.

Volgens Sakkie is sy apparaat op die konsep van ‘n aartappelgeweer geskoei, maar hy werk nog aan ‘n paar verstellings om die maksimum afstand te bereik.

“Daar is verskillende faktore wat ‘n rol speel en die afstand beïnvloed, soos die dikte van die vislyn, windweerstand en die hoek waarteen die loop ingestel word. By die see sal die apparaat die aas ver anderkant die brekende branders laat beland.

“Die enigste nadeel is alles moet saamgedra word as mens nie met die voertuig op die strande mag ry nie. In die binneland by damme is dit nie ‘n probleem nie,” het Sakkie verduidelik.

Volgens Sakkie is hy nie op dié tydstip van plan om die apparaat kommersieel te vervaardig nie.

Tyd, en ander “lui” hengelaars, sal hom dalk anders laat besluit.

IMG_4077

IMG_4082

IMG_4087

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Related Articles

Back to top button